Agriculture
Landbounuus-podcast: SAAI verwelkom regering se ferm optrede─── 11:27 Tue, 24 Mar 2020
Saai, die organisasie vir familieboere, verwelkom die regering se ferm optrede om die koronavirus te stuit, maar bestudeer nog die maatreëls wat die president aangekondig het om die potensiële implikasies vir boerderye te bepaal.
Luidens 'n verklaring verwelkom Saai veral die uitsondering van voedselproduksie en -verspreiding in die opskorting van ekonomiese bedrywighede. Terwyl ondernemings in ander sektore van die ekonomie dramaties moet afskaal en selfs sluit, kan voedselproduksie en -verspreiding nie tot stilstand kom nie. Saai en sy netwerkvennote is deurlopend besig om die beste praktyke te ondersoek om waardekettings te laat vlot, en deel graag dié uitslae met familieboere. Boere se toegang tot produksiemiddele soos veemiddels, voer, spuitstowwe, kunsmis en diesel is wesenlik belangrik om oeste te beskerm, te versorg of in produksie te kry. Saai het onlangs – in samewerking met ’n aantal ander landbou-unies – deur Medihelp Mediese Skema die struktuur en inhoud van ’n mediese skema gefinaliseer wat vir familieboere pasgemaak is. In só ’n groepskema kan boere ouer as 50 jaar van die hoër premies vrygeskeld word en die gesondheidsrisiko’s vir hul families deur ’n spyskaart van opsies teen verskillende prysstrukture bestuur. Die uitbreek van die koronapandemie het die dringendheid van dié skema onderstreep. Saai sê dit besef die maatreëls gaan groot druk op die ekonomie plaas en die behoefte vir konstante voorraad van bekostigbare voedsel was nog nooit so belangrik nie.
EN
Agri Noordwes het vanoggend 'n kennisgewing uitgereik wat sê dat die Agri Noordwes Jongboerkomitee se Jongboerkonferensie en Dinee, wat vir 24 April vanjaar geskeduleer was, tot verdere kennisgewing uitgestel is weens die verbod op groepbyeenkomste van 100 persone of meer. Voorsitter van die Noordwes Jongboerkomitee, Louis Wessels, het die versekering gegee dat Agri Noordwes belanghbbendes en rolspelers op hoogte sal hou van enige verwikkelinge. President Cyril Ramaphosa het gisteraand tydens sy aankondiging van 'n nasionale afsluiting, wat Donderdag om middernag vir 21 dae in werking tree, 'n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om in belang van die land as geheel op te tree.
OFM-nuus
