On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Wolseisoen skop nie op goeie noot af

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:18 Thu, 13 Aug 2020

Landbounuus-podcast: Wolseisoen skop nie op goeie noot af | News Article
Photo: Gallo Images

Die 2020/21 -wolseisoen het nie op 'n goeie noot afgeskop nie, met die wolmark wat tydens die eerste nasionale veiling in Port Elizabeth laer verhandel het teenoor die laaste veiling van die vorige seisoen.


Heindrich Victor, bestuurder spesiale dienste  van vesel by OVK, sê die Cape Wools merino-aanwyser het met 5,7% gedaal teenoor die laaste veiling van die vorige seisoen en teen 'n skoonprys van R137.38 per kg gesluit. Daarmee saam het die Rand met 2,2% swakker teen die Amerikaanse Dollar verhandel en 6,7% teen die Euro verswak,  ooreenstemmend dieselfde tydperk van die vorige veiling.  Victor sê dit is nie goeie nuus vir die bedryf nie, maar omstandighede rondom die wêreld-ekonomie moet in ag geneem word. Hy sê die vraag na volhoubaar gesertifiseerde wol  het tot gesonde kompetisie onder kopers bygedra. Fynwol en goeie gehalte wol het weer eens goed presteer. Meer as 8000 bale is aangebied, waarvan sowat 95% verkoop is.

Uitdagings by Aktekantore word nou dringend aangespreek. Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het met die hoofregistrateur van aktes en alle provinsiale registrateurs vergader om 'n konkrete plan op te stel om uitdagings met betrekking tot 'n agterstand in alle aktekantore aan te spreek. Dit kom nadat talle klagtes ontvang is oor 'n agterstand by die kantore asook die  voortdurende sluiting daarvan. Didiza is bewus van die belangrike rol wat aktekantore in die eiendomsektor speel, asook die rol daarvan in die herstel van die land se ekonomie ná die Covid-19 pandemie, maar belanghebbendes se veiligheid moet ook verseker word.  Een van die maatreëls wat ingestel gaan word, is dat ondersoekers dokumente nou tuis kan deurgaan sodat die eksaminering van dokumente vinniger kan geskied.

EN

Die groeiende vlaag van misdaad in Noordwes wek groot kommer in landbougeledere. Die toenemende gebrekkige optrede deur wetstoepassers en die feit dat daar min of geen gevolge vir oortreders en beamptes is wat hul regsplig versuim nie, vererger die situasie. Dit is volgens Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, wat meen samewerking is nou met die misdaadgolf in landelike gebiede meer nodig as ooit. Hy sê talle pogings deur verskeie instansies om groter bewusmaking oor die omvang en aard van plaasaanvalle te bewerkstellig, is uiters belangrik en word verwelkom.  Agri Noordwes spits hom dus toe om meer doeltreffende samewerking te bevorder.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.