Agriculture
Landbounuus-podcast: Kwarantyn in Limpopo gedeeltelik opgehef─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:16 Wed, 19 Aug 2020
Die kwarantyn wat ingestel is op nege eiendomme in die Vhembe-gebied in Limpopo, nadat beeste daar positief vir bek-en-klouseer getoets het, is opgehef.
Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê tien eiendomme is egter steeds onder kwarantyn. Hy sê die departement se veeartsenykundige dienste werk nou saam met dié betrokke boere om die situasie op dié eiendomme op te los. Beheerde slagtings vind steeds plaas en goeie vordering word in hierdie verband gemaak. Ngcobo het ook bevestig die verbod op die uitvoer van lewende beeste uit Suid-Afrika is deur Botswana opgehef, nadat OFM-nuus verlede week navraag daaroor gedoen het. Hy sê die invoervoorwaardes vir die uitvoer van beeste na dié Suid-Afrikaanse buurland is hersien en daar is oor 'n gesondheidsertifikaat ooreengekom. Die invoervoorwaardes met betrekking tot bek-en-klouseer sluit onder meer in die isolering van diere vir ten minste 30 dae. Dié voorwaardes is aan die provinsiale veeartsenykundie dienste voorsien en potensiële uitvoerders word aangeraai om met hul plaaslike veeartse te skakel om inligting te bekom.
Die waarde van voeraanvullings moet nie onderskat word nie. Dit is volgens Elizna Erasmus, 'n spesialis in dieregesondheid en biosekuriteit by Bupo Animal Health, wat meen met klimaatsverandering en droogtetoestande in die land, is weiding nie altyd gunstig nie. Boere word dan genoodsaak om hul diere te voer. Sy sê daar bestaan egter 'n wanopvatting oor voedingsaanvullings wat in volledige veevoer voorkom en by vervaardigers daarvan verkry word. Sy sê in talle gevalle is dié aanvullings natuurlike produkte wat in veevoer gebruik word. Erasmus beveel aan dat boere wat byvoedingstowwe in 'n rantsoen insluit wanneer hulle hul veevoer self meng, gebruik maak van die hulp van 'n voedingskundige.
EN
Honderdduisende gesinne in die wild- en jagbedryf, die wyn- en tabakwaardekettings en volstruisplase is sonder werk of 'n inkomste weens die regering se irrasionele regulasies onder vlakke 4 en 3 van die Covid-19-inperkings. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê daarmee saam was dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake,(Cogta), genoop om vlak 3 van die nasionale inperking Maandag nietig te verklaar. Hy meen die ANC-regering gaan sukkel om weer die vertroue of respek te bou onder produsente, en Dlamini-Zuma se buitengewone stap om vlak 3 nietig te verklaar, toon dat konfrontasie deur hofaksies meer doeltreffend is as gesprekvoering met die regering. Saai beskou Dlamini-Zuma se drastiese optrede as ’n lafhartige poging om die soeklig van die howe op die rasionaliteit van haar buitensporig beperkende maatreëls te ontduik.
OFM-nuus
