Agriculture
Landbounuus-podcast: Pasop vir parasiete─── ELSABÉ RICHARD 14:00 Tue, 09 Mar 2021
Goeie somerreënval in groot gedeeltes van die land, sowel as hoë temperature, is die ideale omstandighede vir eiers van die meeste inwendige parasiete om uit te broei.
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) berig volgens 'n maandelikse verslag deur die Herkouerveterinêre Vereniging, oftewel RuVASA, moet skaapvleisboere hul diere dophou vir kliniese tekens van parasiete, soos bloedarmoede, bottelkaak, gewigsverlies en diarree. Die inwendige parasiete wat in Januarie 2021 aangeteken is, sluit onder meer ringwurms in die algemeen in, asook haarwurms, lewerslakke en oogwurms. Die RPO raai boere aan om weekliks die oogkleur van ‘n groep skape in die kudde na te gaan. Bottelkaak en bleek oogslym-membrane is byvoorbeeld aanduidings dat sterftes net om die draai is. Verder word boere ook aangeraai om versigtig te wees vir die voorkoms van lewerslakke en kroniese slakke wanneer diere in vleie en ander nat gebiede wei waar die intermediêre gasheer - waterslakke - in groot hoeveelhede voorkom.
Daarmee saam is dit moeilik om van aalwurms ontslae te raak en dit is belangrik om die voorkoms daarvan laag te hou. Dit is volgens ‘n kenner van aalwurms, Professor Driekie Fourie, wat verbonde aan die Noordwes-Universiteit is. Aalwurms is mikroskopiese klein organismes wat op mense, diere en plante teer – en kan dus nie met die blote oog gesien word nie. Hierdie parasiet word veral in tropiese gebiede deur muskiete oorgedra. Fourie deel dat aalwurms nooit totaal uitgeroei kan word nie. Sy sê as aalwurmbevolkingsvlakke nie bestuur word nie kan die boer uiteindelik nie meer die land vir produksie gebruik nie, wat dan sal lei tot ‘n verlies in inkomste. Fourie doen ‘n beroep op boere om in kontak te tree met nematoloë sodat hulle gehelp kan word om te bepaal wat die aalwurmstatus van hulle lande is.
EN
Die eerste koue fronte wat ligte reën en koeler toestande na die suidelike dele van Suid-Afrika en dele van die winterreënvalstreek gaan bring, kan vandeesweek voorkom. Landbou.com berig die heersende La Niña-stelsel kan egter daartoe lei dat die winterreënseisoen laat aanbreek. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê verder vanweë die La Niña-stelsel is verdere reën voor die winter moontlik oor die somerreënvalstreek, veral omdat die stelsel in die laaste deel van Februarie weer effens versterk het. Met die oorgang na herfs en die posisie van die son wat verander, gaan die oppervlaktemperature van die suidelike Indiese Oseaan begin daal, wat gunstig is vir die laaste somerreën oor die binneland en buurlande voor die winter.
OFM-nuus
