Agriculture
Landbounuus-podcast: Kursus vir bekamping van herfskommandowurms ontwikkel─── ELSABÉ RICHARD 11:30 Wed, 17 Mar 2021
‘n Aanlyn-kursus is ontwikkel om herfskommandowurms doeltreffend hok te slaan met geïntegreerde plaagbestryding en goeie landboupraktyke.
Prof. Johnnie van den Berg van die Noordwes-Universiteit verduidelik dat die herfskommandowurms ‘n uitheemse insekplaag is wat sowat vier jaar gelede in Afrika aangekom het, wat ook Suid-Afrika geïnfesteer het. Verder is die herfskommandowurms ‘n plaag wat die wêreldrekord hou vir die tempo waarteen hy versprei. Dit, omdat die plaag oor die laaste twee jaar versprei het na Indië, China, die verre Ooste en nou ook Australië. Herfskommandowurms is ‘n plaag wat hoofsaaklik sorgum, mielies en rys vreet. Van den Berg verduidelik verder dat die plaag ‘n mot is wat eiers lê op mielies en dan broei die larwes uit. Hy sê dit het ‘n baie vinnige lewenstempo en gedurende die eerste twee weke vreet hierdie larwes verskriklik aan, onder meer, die mielieblare. Van den Berg verduidelik hierdie kursus is gratis beskikbaar.
EN
As deel van die voortdurende viering van internasionale vrouedag wat op 8 Maart wêreldwyd gevier is, het OFM-nuus met Jana du Plessis, ‘n suksesvolle byeboer in die Keimoes-omgewing in die Noord-Kaap, gesels. Sy boer nie net met bye nie maar ook met onder meer beeste, lusern, boerbokke en skape. Du Plessis moedig vroue aan om nie bang te wees vir uitdagings nie. Du Plessis, wat op ‘n familieplaas in Keimoes gebore is, het reeds as boer verskeie toekennings ontvang. Sy is in 2007 bekroon as provinsiale boervrou van die jaar en het weer hierdie toekenning in 2011 en 2018 op nasionale vlak verower. Du Plessis deel dat mense soms geneig is om vroue se vermoeëns te onderskat. Daarmee saam moedig sy vroue aan om nie tou op te gooi of te luister na negatiewe opinies nie, maar om eerder uitdagings en geleenthede met entoesiasme en vertroue aan te pak.
OFM-nuus
