On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

#Covid19: Vergoedingskema vir entstofbeserings bespreek

───   06:25 Tue, 20 Apr 2021

#Covid19: Vergoedingskema vir entstofbeserings bespreek | News Article

Die burgerregteorganisasie AfriForum het kommentaar ingedien op die voorgestelde COVID-19-entstofbeseringvergoedingskema.

Dit volg nadat die Minister van Gesondheid, dr. Zweli Mkhize, ’n beroep op die burgery gedoen het om binne slegs vyf dae kommentaar te lewer op die regulasies wat die skema daarstel.

AfriForum het gevra dat die volgende inligting aan die organisasie verskaf word:

- waarom daar nou eers stappe gedoen word om die skema daar te stel;
- besonderhede oor die vrywaring wat aan entstofvervaardigers verleen is;
- hoe entstofvervaardigers die regering gaan vergoed vir eise wat met belastinggeld aan burgers uitbetaal word;
- hoe persone en instellings aanspreeklik gehou gaan word vir hul optrede indien daar nie vir hofaksie voorsiening gemaak word nie.

AfriForum het onder meer die volgende wysigings aan die regulasies voorgestel:

- dat ’n paneel van kundiges uit die privaat-, nie-winsgewende en openbare sektor daargestel word om die skema te administreer, en dat die administrasie dus nie deur die Departement van Gesondheid behartig word nie;
- dat alle COVID-19-entstowwe, ook dié wat nie deur die regering aangekoop en versprei word nie, deur die skema gedek word;
- dat tydelike beserings verwant aan die entstowwe, wat tot ’n verlies aan inkomste lei, ook deur die skema gedek word;
- dat die regulasie wat burgers se toegang tot die howe oor eise beperk, geskrap word, óf dat baie duidelike verwerkingstye en uitkomste vir al die fases van die eisproses daargestel word;
- dat die regulasies wat burgers verbied om regstappe teen entstofvervaardigers of instellings en persone wat entstowwe toedien (nasionale en provinsiale regerings uitgesluit) te neem, geskrap word.

AfriForum het die minister ook op die volgende gewys:
- Die geld wat tot die beskikking van die regering is, is die burgery se geld.

- Indien ’n verskaffer wins uit ’n produk maak wat met belastinggeld aangekoop word, moet die verskaffer ook aanspreeklikheid vir die gevolge van die produk aanvaar.

- Die regering is daar om die burgery te dien en daar is geen plek vir geheimhouding wanneer dit by entstowwe kom nie.

- Die regering gaan nie die steun van burgers geniet as die doel van stappe wat geneem word nie verstaan word nie.

- Die huidige optrede van die regering is nie besig om die vertroue van die burgery te bevorder nie, en burgers sal slegs regeringsriglyne volg indien daar genoeg vertroue bestaan.

“Die regering se prestasie wys op die noodsaaklikheid daarvan om die administrasie van die skema buite ’n regeringsdepartement te vestig. Dit is ondenkbaar dat burgers se reg tot toegang tot die howe beperk word en dat tydelike beserings wat tot ’n verlies aan inkomste lei nie spesifiek deur die skema gedek word nie. Die uitsluiting van entstowwe wat nie deur die regering aangekoop en versprei word nie, is nie in belang van burgers nie. Die onduidelikheid oor hoe instellings en persone aanspreeklik gehou gaan word vir nalatige optrede is onrusbarend,” sê Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum.


Verklaring

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.