Agriculture
Landbounuus-podcast: Koue nagtemperature lê voor - Kundige─── ELSABÉ RICHARD 14:13 Wed, 23 Jun 2021
Boere word gemaan om hul plante en diere teen die koue te beskerm aangesien baie koue nagtemperature voorlê.
Só sê Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. Hy sê in hierdie stadium van die winterseisoen is daar kouefronte wat oor die Suidwes-Kaap inbeweeg, wat oor die volgende paar dae reën oor daardie gebied sal veroorsaak. Inwoners kan ook verwag dat baie koue toestande oor die naweek sal voorkom, met verwagte minimum temperature van minus vyf grade Celsius oor veral die sentrale, suidelike en oostelike dele van die Vrystaat, sowel as die suidoostelike dele van die Noord-Kaap, wat Hopetown insluit. Van den Berg waarsku dat daar oor die volgende paar dae baie sterk winde gaan voorkom en sê brandgevare gaan nog vir die volgende maande bestaan weens baie brandmateriaal soos bosse en gras wat nou doodgeryp het.
Twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die jong plaasbestuurder, Brendin Horner, in Paul Roux vermoor het, is borgtog van R5 000 elk in die Senekal-landdroshof in die Vrystaat toegestaan. Die verdedigingsadvokaat, Machini Motloung, het aan OFM-nuus gesê die hof het Dinsdag beslis dat die eerste beskuldigde, Sekwetja Mahlamba, en die tweede beskuldigde, Sekola Matlaletsa, borgtog moet kry op grond van nuwe feite. Die saak teen die twee is nou oorgedra na die Rondgaande hof in Bethlehem, waar 'n voorverhoor op 23 Augustus 2021 begin. Die twee staan tereg op aanklagte van roof, moord en veediefstal ná die moord op Horner in Oktober 2020. OFM-nuus het vroeër berig die staat se DNS-toetsuitslae van bloedmonsters, wat uit een van die beskuldigdes se klere geneem is, het negatief teruggekom en nie ooreengestem met Horner se bloed nie.
EN
Die ondertekening van ’n suurlemoenprotokol tussen Suid-Afrika en China sal R325 miljoen nuwe uitvoerwinste en 800 werksgeleenthede vir Suid-Afrika beteken. Landbou.com berig die hersiende sitrusprotokol is onlangs deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, onderteken. Volgens die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging kan die plaaslike produksie van suurlemoene teen 2024 met 175 000 ton groei. Dit het ses jaar geduur om die hersiende protokol af te handel nadat die sitrusbedryf versoek het dat suurlemoene vrygestel moet word van die regulatoriese vereistes vir 'n mot, genaamd die valskodlingmot, aangesien suurlemoene nie ’n gasheer vir dié plaag is nie.
OFM-nuus
