On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Sentraal SA bibber van die koue

───   ELSABÉ RICHARD 14:16 Fri, 16 Jul 2021

Landbounuus-podcast: Sentraal SA bibber van die koue  | News Article

Sentraal Suid-Afrika het vandeesweek gebibber van die koue vanweë 'n goed ontwikkelde kouefront wat die kwik tot vêr onder vriespunt laat daal het.

Sneeu en ryp is op die hoogliggende gebiede aangemeld en inwoners is gewaarsku om hulself, hul diere en plante teen die koue te beskerm. Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap deel dat daar ook die afgelope tyd reën in die winterreënvalgebiede van die provinsie voorgekom het. Jansen gee ook die nuutste inligting oor die dam- en riviervlakke ná reënval in dele van die provinsie.

Twee veespekulante wat vandeesweek saam met vyf polisiebeamptes op aanklagte van veediefstal in hegtenis geneem is, sal weer op 22 September in die Ladybrand-landdroshof in die Vrystaat verskyn. Hulle hofverskyning volg nadat hulle Donderdag op borgtog van R10 000 vrygelaat is nadat hulle Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem is. Die inhegtenisneming van die sewe verdagtes volg nadat daar in Oktober 2020 'n versoek aan die minister van polisie, Bheki Cele gerig is ná 'n optog in Senekal oor die moord op plaasbestuurder, Brendin Horner, om 'n taakspan op die been te bring om klagte van polisiekorrupsie en veediefstal in die Bethlehem-omgewing te ondersoek. Volgens die provinsiale woordvoerder van die Valke, Christopher Singo, is die polisiebeamptes elk op borgtog van R2 000 vrygelaat en sal hulle in September saam met die veespekulante in die hof verskyn. Hy voeg ook by dat 'n agtste verdagte in die saak, wat van Lesotho afkomstig is, op Woensdag 21 Julie in die genoemde hof verwag word vir regshulp en borgtogaansoek.

EN

Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het met verskillende belanghebbendes in die landbou- en voedselbedryf vergader om kwessies te bespreek wat verband hou met probleme rakende die toegang tot voedsel, die logistiek rondom die vervoer daarvan tussen KwaZulu-Natal en verskillende dele van Gauteng, wat geraak is deur voortslepende onrus. Die departement sê in 'n verklaring dat die vergadering Donderdag produktief was, aangesien alle betrokkenes hulle daartoe verbind het om saam met die regering te werk en te reageer op die uitdagings van voorraadbestuur, en toegang in die geval van KwaZulu-Natal ná wydverspreide gewelddadige betogings en plundering. Die Minister het ook 'n tegniese span saamgestel, wat bestaan uit kundiges uit die bedryf en die regering om die implementering van al die dringende kwessies te monitor.





OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.