On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Agriculture

Werksbeserings: Wat is 'n vergoedingsfonds se voordele vir werkgewers, werknemers?

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 14 Feb 2022

Werksbeserings: Wat is 'n vergoedingsfonds se voordele vir werkgewers, werknemers? | News Article

Ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, kwalifiseer produsente en werkers wat seergekry het terwyl hulle aan diens was, vir sekere voordele.

OFM-nuus se Elsabé Richard gesels met Stephan Pietersen, stigter van Work Accident Support, hieroor.

Sien onderstaande PODCAST

Wat is hierdie voordele van om by die Vergoedingsfonds geregistreer te wees?

Alle werksbeserings moet binne sewe dae by die Vergoedingsfonds aangemeld word, en die produsent moet die werker se salaris betaal terwyl hy/sy van diens afgeboek is tot ‘n maksimum van drie maande.

Hierdie salarisbetaling kan dan vanaf die Vergoedingsfonds teruggeëis word - maar slegs 75% hiervan.

Die berekening word soos volg gedoen: Die werker se salaris, soos ten tye van die ongeval x 75% x dae van diens af of aantal dae van die maand wanneer besering plaasgevind het.


Wat gebeur ná die drie maande indien ‘n werker nog afgeboek is?

Die produsent het die opsie om nog die salaris te betaal en dit terug te eis, maar indien nie, sal die werker na die naaste Departement van Arbeid moet gaan om die salaris te eis.

Baie belangrik om te onthou is dat daar genoegsame mediese bewyse moet wees dat die werker wel afgeboek is, en werkers moet op ‘n maandelikse basis gaan vir opvolg mediese verslae.


Wat is van die ander voordele vir werkers?

Indien ‘n werker beseer is en dis van só ‘n aard dat hy of sy permanente skade opgedoen het, kan so ‘n werker ‘n persentasie permanente ongeskiktheid betaal word.

Voorbeelde hiervan is waar ‘n werker se vinger geamputeer is. Baie plaaswerkers werk in die veld waar ‘n skerp voorwerp hulle kan sny. Die ongeskiktheid sal deur die Vergoedingsfonds bepaal word, gebaseer op die mediese verslae wat hulle ontvang het, en kan slegs bepaal word wanneer die dokter die werker se saak toegemaak het.


Wat is die voordele vir produsente?

Voorbeelde vir produsente wat by die Vergoedingsfonds geregistreer is indien ‘n werker ‘n besering aan diens sou opdoen en dit binne die vasgestelde tydperk aangemeld het, sluit in dat die werker nie die produsent hof toe kan vat vir enige onkostes nie of verantwoordelik hou vir enige betaling nie.

Nog ‘n voordeel is dat produsente die salarisse wat hy aan ‘n beseerde werker betaal, terug kan eis by die Vergoedingsfonds.


Wat as ‘n werker sterwe terwyl hy besig was om te werk?

In ‘n ongelukkige geval waar ‘n werker sou sterf, sal eerstens die vrou of man, indien die werker getroud was, kwalifiseer vir ‘n maandelikse pensioen vir die res van haar of sy lewe. Indien die werker kinders gehad het, sal die kinders ook kwalifiseer vir ‘n pensioen tot en met die ouderdom van 18 jaar, en mits hulle verder sou studeer sal hulle nog steeds kwalifiseer.

Die begrafnis se onkoste sal ook betaal word.


Wat van die mediese rekeninge van werkers wat mediese behandeling kry?

Die Vergoedingsfonds tree ook op soos ‘n mediese fonds en dokters is veronderstel om hul mediese rekeninge aan die fonds te stuur vir betaling. Produsente en beseerde werkers is nie veronderstel om enige mediese rekeninge te betaal nie.  


Wat sal gebeur as ‘n werker nou beseer is en byvoorbeld in ‘n paar jaar se tyd weer komplikasies het weens dié besering?

In terme van die wet sluit alle sake nadat die dokter die saak toegemaak het, outomaties ná ‘n twee jaar tydperk. En indien die werker weer komplikasies sou ondervind, kan die dokter aansoek doen vir die heropening van die saak, en indien die Vergoedingsfonds die saak sou oopmaak, sal hulle die mediese onkoste betaal, asook enige vergoeding.  


Enige ander informasie om by te voeg?

Belangrik om te onthou is dat alle werksbeserings en beweerde werksbeserings aangemeld moet word. Dit is nie die produsent se plig om te besluit wat aangemeld moet word, of nie. Die Vergoedingsfonds sal, volgens die inligting voorsien, besluit wat aanvaar sal word vir die betaling van vergoeding en redelike mediese onkoste.

Die Vergoedingsfonds betaal geen vergoeding vir pyn en lyding nie.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.