On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Wees op die uitkyk vir dieresiektes soos slenkdalkoors ná reën

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Fri, 18 Feb 2022

Wees op die uitkyk vir dieresiektes soos slenkdalkoors ná reën | News Article
FOTO: SABRINA DEAN

Boere word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir dieresiektes, veral ná voortdurende reënval in dele van Suid-Afrika.

Een van hierdie dieresiektes, wat selfs blindheid in mense kan veroorsaak, is slenkdalkoors.  

Sien onderstaande PODCAST

Slenkdalkoors is ‘n virussiekte wat oorgedra word deur veral die Aedes-muskiet, gewoonlik ná reënval.

Entstowwe beskikbaar om die verspreiding van die virus te keer sluit in die geïnaktiveerde entstof, ook bekend as die dooie entstof. Dr. Faffa Malan, ‘n bekende veearts, verduidelik dat hierdie entstof gewoonlik vir dragtige diere gegee word, maar dat dit ook vir nie-dragtige diere gegee word.

Die ander entstof-opsie staan bekend as die lewende entstof, of die Smithburn-entstof.

OFM-nuus het voorheen berig dat daar ‘n huidige tekort aan diere-entstowwe in Suid-Afrika is. Volgens Farmer’s Weekly se Janine Ryan, het die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, onlangs 'n vergadering met verskeie ander veebedryfrolspelers gehad om hierdie tekort te bespreek.

Sy sê daar is besluit dat een van die korttermynoplossings wat geïmplementeer moet word, die noodregistrasie van diere-entstowwe is, asook Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) wat intellektuele eiendom met private ondernemings deel in 'n poging om die vervaardiging van nodige entstowwe te bespoedig.

Van die simptome van slenkdalkoors in diere is dat dragtige diere aborsies ervaar. Malan raai boere aan om hulle veeartse te kontak wat dan met beskermende toerusting na die plaas toe kom en monsters neem sodat toetse gedoen kan word.

Daar moet ook kennis geneem word daarvan dat slenkdalkoors ‘n soönose is, wat beteken dat mense dit ook kan kry deur aan siek diere te raak. Simptome by mense sluit in griepagtige simptome en dat die virus ook tot blindheid en sterftes kan lei.



OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.