On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Hoe die Rusland-Oekraïne-konflik SA boere kan raak

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 28 Feb 2022

Hoe die Rusland-Oekraïne-konflik SA boere kan raak | News Article
Foto: latimes.com

Die konflik wat tans tussen Rusland en die Oekraïne aan die gang is, hou kort- en langtermyn implikasies - beide negatief en positief - vir Suid-Afrikaners in.

Sien onderstaande PODCAST

Dr. Kobus Laubscher, ‘n landbou-ekonoom, sê aan OFM-nuus dat Afrika nie 'n groot mark in Rusland het nie.

Rusland neem sowat 7% van Suid-Afrika se sitrusuitvoer en sowat 12% van Suid-Afrika se appels en pere wat uitgevoer word.

Die groter waarde van Rusland en die Oekraïne lê egter in hulle vermoë om internasionale graanmarkte te beïnvloed. Laubscher voeg by dat beide hierdie lande ‘n groot aantal mielies en sonneblomolie uitvoer.

Suid-Afrika voer veral baie koring en sonneblomolie in vanaf die Oekraïne.

“As ons dit in ag neem, asook die belangrikheid van hierdie twee lande in die wêreld se graanhandel, dan kom hierdie politieke onstabiliteit te midde van reeds stygende wêreldpryse vir grane.

“Byvoorbeeld, in die aanloop tot hierdie aanval het die mieliepryse oorsee op internasionale markte, vergeleke met 2021, wat toe alreeds op hoë vlakke was, met 21% gestyg; koring met 35%; sojabone met 20% en sonneblomolie met 11%. Dit is enorme stygings,” benadruk Laubscher.

Vir plaaslike produsente beteken hierdie bogenoemde prysstygings ook goeie nuus. Dit, omdat ‘n verswakkende Rand beteken dat binnelandse pryse vir dié landboukommoditeite ook styg op uitvoerpariteit.

Die teenoorgestelde hiervan is egter dat die prys van ingevoerde koring nou gaan verhoog. Dit sal tot gevolg hê dat alle produkte wat van koring gemaak word, verhoog sal word.


Brandstofpryse

Laubscher deel dat die konflik tot gevolg gehad het dat die internasionale oliepryse tot meer as $100 gestyg het, die hoogste in jare – wat ‘n defnitiewe invloed op Suid-Afrikaners gaan hê.

Vir boere beteken dié verhoging dat brandstofpryse wéér gaan styg te midde van insetkostestygings wat verband hou met verhoogde brandstofpryse. Dit sluit in die vervoer van insette, die vervoer van lewendehawe en graan.

Boere kan ook verwag dat kunsmis nadelig geraak kan word en pryse hiervoor ook sal styg. Dit volg nadat daar reeds geweldige stygings in kunsmispryse was – in sekere gevalle tot 50% hoër as ‘n jaar gelede.

Met ‘n verwagte styging in brandstofpryse in die eerste week van Maart, sê Laubscher Suid-Afrikaners gaan op die einde van die dag minder geld in hulle sakke hê, wat sal beteken dat mense minder koopkrag sal hê.

Op die langtermyn het dit ‘n negatiewe uitwerking op die ekonomie van die land.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.