On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Virtuele staptog teen plaasaanvalle en –moorde

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 25 May 2022

Virtuele staptog teen plaasaanvalle en –moorde  | News Article

Suid-Afrikaners word uitgenooi om op 16 en 17 Junie vanjaar aan ‘n virtuele staptog teen plaasaanvalle en –moorde deel te neem.

Volgens Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, is die plan om binne 24 uur virtueel 6 065 km te stap. 

Sien onderstaande PODCAST

Hy sê 6 065 plaasaanvalle en 2 182 plaasmoorde is sedert 1990 aangemeld - TLU SA werk streng volgens saaknommers om statistieke te bepaal. Elke kilometer wat gestap word verteenwoordig een van die plaasaanvalle.

Van Zyl beklemtoon dat sowat 60 moorde per dag in Suid-Afrika plaasvind, en bedank lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat hulle bes doen in moeilike omstandighede om verdagtes vas te trek.

LEES OOK: SA/Lesotho-grens groot kopseer vir landbougemeenskappe

Die virtuele staptog is juis om bewusmaking te skep oor hierdie misdade “sodat die regering gedwing word om meer as net leë woorde oor die erns van die situasie te spreek. Plaasaanvalle moet as prioriteitsmisdaad dieselfde aandag en aksie geniet as ander ernstige misdade.”

“Ons wil graag hê dat alle Suid-Afrikaners wat keelvol is vir misdaad, saam met ons aan hierdie protesoptog deelneem.”

“As jy die staptog ook wil ondersteun en wys dat die veiligheid van boere vir jou belangrik is, registreer en laat jou naam op die lys van ondersteuners verskyn. Jy sal dan ’n e-pos ontvang met nog inligting, maar, intussen kan jy solank op jou sosiale media platforms deel dat jy die projek ondersteun met die hutsmerke: #plaaslewens #plaasstap #tlusa,” het Van Zyl verduidelik.

LEES OOK: Syfers oor plaasmisdaad bekend

“As jy egter meer betrokke wil wees en jou ondersteuning op ’n aktiewe manier wil wys, hier is nog ’n paar opsies om deel te wees van die veldtog:

“As jy wel ter ondersteuning wil stap of hardloop – 6km of 6 065 tree – neem foto’s en deel dit met ons op Facebook of Instagram met die veldtog se hutsmerke: #plaaslewens #plaasstap #tlusa

“Indien dit nie vir jou – om watter rede ook al – moontlik is om te stap of hardloop nie, kan jy ook jou stapskoene aantrek, ’n foto neem en deel en dan só jou ondersteuning wys.”

Die skakel om te registreer en deel van die staptog te wees: https://stapsaam.co.za en as jy wil sien hoe lyk die roete besoek https://stapsaam.co.za/stap-saam/.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.