On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Agri-Uur: Jongste Safex-nuus

───   05:00 Wed, 15 Jun 2022

Agri-Uur: Jongste Safex-nuus | News Article
FOTO: OFM-nuus.

Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.

Mielies:

Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Dinsdagoggend met 0,52% gedaal, ná die sterk afwaartse neiging vir sojabone.

Die WASDE-verslag wat Vrydag vrygestel is, het 'n toename in wêreld mielieproduksie aangetoon. Wêrelduitvoer is egter effens verminder. 

Mielieproduksie in die Oekraïne is met 5 500 000 ton opwaarts aangepas, hoofsaaklik as gevolg van 'n groter aangeplante oppervlakte as wat voorheen verwag is. Die voorraad-tot-gebruik-verhouding, wat die eindvoorraad as 'n persentasie van die totale vraag aandui, is aan die laer kant vir die VSA, Brasilië en Argentinië. Dit verleen bykomende fundamentele ondersteuning. 

Die VSA is besig om die plantseisoen te voltooi, met die opkomende oes wat 72% in 'n goeie tot uitstekende toestand is. Hittetoestande wek egter kommer oor toekomstige opbrengste.

Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Dinsdag effens afwaarts verhandel vir beide wit- en geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in Julie 2022, R4/ton (- 0,09%) gedaal om teen R4 518/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2022, R24/ton (- 0,52%) laer verhandel om teen R4 605/ton te sluit.


Sojaboon:

Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste kontrakmaand het Dinsdagoggend met 2,2% gedaal.

Dit volg op 'n rondte van tegniese handel nadat gunstige uitvoerinspeksie-data deur die USDA vrygestel is. Sterk vraag na sojabone van Amerikaanse oorsprong hou aan om die mark te ondersteun, ten spyte daarvan dat Suid-Amerikaanse produsente besig is om te oes. Die huidige kykpunt is Amerikaanse weer oor die komende maande vir die 2022/23-oes. Op die langtermyn is wêreldwye eindvoorrade tans besig om toe te neem.

Die binnelandse sojaboonkontrakte het Dinsdagoggend met effense afwaartse tendense verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Julie 2022 met R29/ton (- 0,31%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R9 258/ton. Die afgelope maand het SAFEX-sojaboonkontrakte teen 'n sywaartse neiging verhandel, met die hoë Amerikaanse sojaboonhektare wat 'n deksel op prysstygings hou.


Koring:

Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Dinsdagoggend 0,04% hoër verhandel.

Die oesproses in die VSA, en sommige dele van die EU, plaas 'n mate van afwaartse druk op huidige pryse. Swart See-uitvoerpotensiaal veroorsaak wisselvalligheid teenoor huidige pryse. Kommer oor die Oekraïense uitvoervolumes ondersteun wêreldpryse vir die oomblik. Met EU- en VSA-oeste wat nader kom, bly weerstoestande 'n uitkykpunt. Veral vir Frankryk, wat een van die top koringprodusente in Europa is en wat 'n paar droë toestande ervaar.

Die binnelandse koringkontrakte het Dinsdag aansienlik sterker verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Julie 2022 met R25/ton (+ 0,31%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R8 145/ton. Die Desember 2022-koringkontrak het met R37/ton (+ 0,50%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R7 445/ton. 

Plaaslike koringprodusente in die Wes-Kaap-streek het aanplantings afgehandel. Die Swartland-streek ervaar egter warm en droë weer met broodnodige verligtingsreën wat Maandagaand geval het.

Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.