On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Agri-Uur: Jongste Safex-nuus

───   05:00 Mon, 18 Jul 2022

Agri-Uur: Jongste Safex-nuus | News Article

Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.

Mielies:

Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Vrydagoggend met 6,08% gedaal.

China beplan om 'n invoer-ooreenkoms te teken om groot mates van Brasilië se mielies aan te koop. Invoer sal namate aan die einde van die jaar voortgaan. Brasilië se mielie-oes is al reeds 20% gestroop, teenoor die vorige seisoen se 3%. Agribesighede in Brasilië het reeds hul produksievooruitskattings vir hierdie seisoen opwaarts aangepas.

Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Vrydag effens opwaarts verhandel vir wit- en geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in Julie 2022, R71/ton (+ 1,63%) geklim om teen R4 414/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2022, R77/ton (+ 1,8%) hoër verhandel om teen R4 344/ton te sluit.

Vir die week wat op 8 Julie geëindig het, is 124 908 ton mielies uitgevoer. Hiervan was 7 763 ton witmielies en 117 145 ton geelmielies. Daar is meer geelmielies uitgevoer as wat per week nodig is om aan die uitvoer-vooruitskattings vir die 2022/23 bemarkingsjaar te voldoen. Kumulatiewe geelmielie-uitvoer is tans hoër as verlede seisoen, sowel as die vyf-jaar-gemiddelde van uitvoer.


Sojaboon:

Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste kontrakmaand het Vrydagoggend met 1,37% gestyg.

Amerikaanse sojaboonkontrakte ervaar 'n mate van afwaartse druk met die Brent ru-olie prys wat geval het. Daar is sprake dat Indonesië die uitvoerheffing van palm-olie vir twee maande gaan opskort om sodoende plaaslike uitvoerverkope te stimuleer. Amerikaanse weer is tans in fokus aangesien die gewas belangrike ontwikkelingstadia binnegaan. Langtermynfokus sal wees op Suid-Amerikaanse plantvoornemens en of hoë insetpryse moontlik oppervlakte kan verminder.

Die binnelandse sojaboonkontrakte het Vrydagoggend met gemengde tendense verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Julie 2022 met R5/ton (- 0,06%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R8 190/ton.


Koring:

Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Vrydagoggend 0,5% laer verhandel.

Daar is sprake van 'n diepsee-uitvoerooreenkoms tussen Rusland en die Oekraïne. Die ooreenkoms is egter nog net in die onderhandelingsfase. Dit blyk wel of daar al vordering gemaak is, met 'n diepsee-uitvoerskip wat bestem is om in Augustus uitgevoer te word na Italië. 

Rusland hou aan om koring uit te voer na nie-NATO lande. Argentinië se plantproses word vertraag deur droë toestande en 'n tekort aan reën. Die plantproses is al egter 90% voltooi. Argentinië, wat een van die wêreld se grootste koringuitvoerders is, het vir hierdie seisoen 'n kleiner aangeplante area vir koring.

Die binnelandse koringkontrakte het Vrydag met effens gemengde tendense verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Julie 2022 met R102/ton (- 1,32%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R7 598/ton. Die Desember 2022-koringkontrak het met R25/ton (+ 0,35%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R7 220/ton.

Vir die week wat op 8 Julie geëindig het, is daar 30 977 ton koring ingevoer. Die koring is ingevoer vanaf Australië.

Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.

OFM-nuus



@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.