Agriculture
Noordwes sien uit na ‘n goeie landboujaar─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 11 Jan 2023
2022 was ‘n goeie jaar vir landbou in Noordwes. Produksie was goed en so ook produkpryse.
Die provinsie het ook goeie reën ontvang, wat gunstig vir plaaslike landbouers was, deel die president van Agri Noordwes, Willem de Chavonnes Vrugt.
“Die einde van die inperkings wat Covid gebring het, het ook gemaak dat ons meer vergaderings kon hê.
“Ons kon ons boereverenigings besoek, en vir ons organisasie wat ‘n wye netwerk van boereverenigings het, [was] dit baie belangrik om bymekaar te kom om vergadering te hou en te kyk waar ons saam na oplossings kan soek vir ons uitdagings. Maar dan ook om saam sosiaal te kan verkeer en funksies te kan aanbied...”
Die landbou-organisasie kon ook sy jongboer-kongres, jaarkongres en algemene raadsvergaderings in lewende lywe aanbied.
2022 was ook volgens De Chavonnes Vrugt ‘n baie makliker jaar gewees in vergelyking met die vorige twee jare toe lede nie bymekaar kon kom nie.
UITDAGINGS
- Paaie
Hoewel die reën goed verwelkom is, het dit ook die toestand van reeds vervalle infrastruktuur verder versnel. De Chavonnes Vrugt sê volgens opnames wat hulle oor die paaie in die provinsie aan die einde van 2022 gedoen het, het produsente aangedui dat hulle die toestand van paaie groot uitdagings tot gevolg het.
Hy sê van die landbouers in die provinsie, gekoördineer deur landbouverenigings tesame met plaaslike landbouverenigings, het self paaie begin herstel, in ‘n poging om produsente te help om hul produkte na verskeie markte te kan vervoer.
- Biosekuriteit
“Dit was nodig van die regering gewees om die veilings te stop [weens bek-en-klouseer uitbrake] vir ‘n periode… [Dit het] ‘n groot invloed gehad op ons produsente, veral die kleiner produsente.
“Wat kontantvloei aanbetref, om van hulle diere te kon bemark, maar dan ook op ons boereverenigings wat afhanklik is aan die inkomste wat hulle kry vanaf die veilingsfasiliteite wat hulle op hulle persele het en dat dit vir ‘n periode nie kon gebeur nie.
“So, ons kyk saam na oplossings. Ons werk saam met verskillende departemente wat verantwoordelik is om te kyk dat die regulering en wetgewing toegepas word wat biosekuriteit aanbetref.
- Beurtkrag
Die implementering van beurtkrag was ook, soos vir verskeie landbouers in Sentraal-Suid-Afrika, ‘n groot uitdaging vir produsente in Noordwes.
De Chavonnes Vrugt vertel dat baie produsente ook onder beperkte kragtoevoer of strafkrag gebuk gaan. Dit is wanneer Eskom bykomend tot die beurtkrag die krag op sekere lyne afsit omdat daar onwettige aansluitings deur gebruikers is, en dit het ‘n baie groot en negatiewe invloed op meer intensiewe boere - die boere wat moet besproei en die boere wat intensiewe veeproduksie het.
“Ons is besig om te kyk hoe ons kan maak om met Eskom te praat, maar dan ook die inligting wat ons vir Sakeliga gegee het om moontlik deur die hof te kyk dat daai verbruikers nie gestraf word nie. Ons voel dis nie regverdig dat die wat betaal dieselfde gestraf word as die wat onwettige aansluitings het nie.”
- Misdaad
Misdaad in landelike gebiede bly ook steeds ‘n uitdaging. De Chavonnes Vrugt verduidelik dat hulle nie net bekommerd is oor die werk wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedoen word nie, maar ook oor die werk van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).
Hy sê die organisasie speel hier ‘n koördinerende rol, “om te kyk hoe ons die SAPD en die NVG kan laat saamwerk… en dat daar meer skuldigbevindings kom van die mense wat gearresteer word.”
De Chavonnes Vrugt deel verder dat hoewel die bogenoemde uitdagings steeds ‘n realiteit vir plaaslike produsente is, sien hulle uit na die seisoen waarin hulle reeds verkeer.
“Ons het ‘n groot waardering vir produsente wat so hard gewerk het oor die feesgety om te plant deur hierdie moeilike omstandighede.
“Die voorspellings vir die reën wat voorlê klink en lyk goed. So ons is vol vertroue dat die seisoen sal aanhou soos wat dit tot nou toe gegaan het.”
PROJEKTE
Die organisasie is opgewonde oor projekte hierdie jaar wat insluit die digitale invordering van inligting. Agri Noordwes is in die proses om ‘n selfoon toep te ontwikkel waar dit op een platform moontlik sal wees om misdaad, foute in krag-, paaie- of selfoon-netwerke te kan rapporteer.
