Agriculture
Landbounuus-podcast: Te veel reën nie goed vir landbou-aktiwiteite nie─── ELSABÉ RICHARD 14:04 Tue, 14 Feb 2023
Te veel reën kan die omgewing benadeel en 'n uitwerking hê op landbou-aktiwiteite.
Die koördineerder van landbou in die Thabo Mofutsanyana Distriksmunisipaliteit, Lebohang Moshoaliba sê hulle raad aan boere is om te kyk na hul bemesting, veral stikstof. Hy sê dis nie 'n opsie om gewasse oor te plant nie.
Die Vrystaatse Departement van Landbou nooi boere na ’n vergadering oor beurtkrag. Die departement sê die uitwerking van die energiekrisis op landboubedrywighede sal bespreek word. Dit word beplan vir 21 Februarie in die I.P.J.-saal by Glen. Registrasies om dit by te woon sluit 16 Februarie. Besonderhede is beskikbaar op die departement se Facebook-blad.
Verskepingsgeleenthede is beperk aan die begin van die sitrus-seisoen. Die Suid-Afrikaanse Sitrus-kwekers-vereniging sê sanksies weens die oorlog in Oekraïne het 'n nadelige uitwerking op handelsvloei. Dit sê die koste van verskeping na Rusland het ook aansienlik toegeneem, wat gelei het tot swak opbrengste aan die produsent vanaf daardie mark.
Intussen presteer plaaslike koringmarkpryse goed ná aankondigings dat Rusland moontlik die graan-uitvoer-ooreenkoms in die Swartsee kan verbreek. Hoër energiepryse het ook koringpryse ondersteun. Die Swartsee-graan-inisiatief is verlede Augustus ingevoer en is laat in November verleng.
EN
Bennie van Zyl van die TLU-SA sê Valentynsdag is nie iets waarmee hy grootgeword het nie; hy het eers later in sy lewe daarmee kennis gemaak. Hy sê op dié dag wil hulle by TLU dankie sê vir boervroue: dié wat self boer -- en dié wat hul man bystaan, en help met stabiliteit op die plaas, met die ondersteuningsdienste om seker te maak dat Suid-Afrika se boere in produksie bly. Hy sê elke dag is ’n goeie dag om in liefde saam te leef.
