Agriculture
Wat beteken Suid-Afrika se gryslys-status vir landbou?─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Wed, 15 Mar 2023

Die internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF), wat ’n wêreldwye waghond vir geldwassery en terreurfinansiering is, het Suid-Afrika op die gryslys geplaas.
Die FATF stel internasionale standaarde wat daarop gemik is om onwettige aktiwiteite en die skade wat dit aan die samelewing veroorsaak, te voorkom.
Volgens die Suid-Afrikaanse regering is die land op die gryslys geplaas omdat dit tekortskiet aan sekere internasionale standaarde vir die bekamping van geldwassery en ander ernstige finansiële misdade.
ALSO READ: MPs to debate South Africa's greylisting
So, wat beteken dit vir die landbousektor?
Bongi Kunene van die Bankvereniging van Suid-Afrika sê Suid-Afrika se gryslys-status het nie net ‘n impak op landbou nie, maar op alle sektore wat goedere in- en uitvoer.
Sy verduidelik dat in hierdie stadium is dit baie onwaarskynlik dat die land se status wel ‘n impak sal hê op sy vermoë om internasionaal handel te dryf.
“Wat moontlik is, is dat dit dit moeiliker kan maak vir maatskappye wat in Suid-Afrika geregistreer is om toegang tot internasionale finansiële dienste te kry, en selfs al doen hulle dit, kan daar ’n toename in nakomingskoste wees.
"Dit het dus tot gevolg dat dit afbreuk doen aan Suid-Afrika se reputasie as ’n goeie beleggingsbestemming.”
Kunene sê egter dis nou te vroeg om definitief te wees van wat dit vir elke sektor gaan beteken.
Suid-Afrika se strategieë om van die gryslys af te kom
Die Presidensie het op 27 Februarie ‘n verklaring vrygestel waarin dit sy planne om van die lys af te kom, uiteensit.
Dit sê dit is vasbeslote om so vinnig as moontlik van die gryslys af te kom, omdat dit nie net belangrik is vir Suid-Afrika se internasionale aansien nie, maar ook vir die land se eie vermoë om finansiële misdade te beveg.
"Ons het 'n gefokusde aksieplan in plek om die oorblywende tekortkominge wat deur die FATF geïdentifiseer is, aan te spreek. Die meeste van hierdie tekortkominge hou verband met die implementering van ons wette.
"... Ons moet onder meer 'n toename in die ondersoek en vervolging van ernstige en komplekse geldwassery en terrorismefinansiering kan demonstreer, 'n toename in wedersydse regshulpversoeke aan ander lande, 'n toename in die gebruik van finansiële intelligensie deur wetstoepassingsagentskappe, en die effektiewe implementering van geteikende finansiële sanksies.
“Ons aksieplan om hierdie tekortkominge aan te spreek is in lyn met die werk wat ons doen om die aanbevelings van die Staatskapingskommissie te implementeer, soos uiteengesit in ons voorlegging aan die Parlement in Oktober verlede jaar.
“As ’n land wat die oppergesag van die reg waardeer en afdwing, is die gryslys vir ons ’n geleentheid om ons beheermaatreëls te verskerp en ons reaksie op georganiseerde misdaad te verbeter.
“Dit sal ons uiteindelik op ’n sterker voet plaas om hierdie skadelike en gevaarlike misdade effektief te beveg,” sluit die verklaring af.
Volgens Kunene het die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, na dié nuus homself daartoe verbind dat die land teen Januarie 2025 van die gryslys afgehaal sal word.
Lande hou gewoonlik hulle gryslys-status tot wanneer al die geïdentifiseerde kwessies afgehandel is.