Agriculture
Jong afslaers: Nuwe ster gekroon op Bloemskou─── 12:38 Wed, 30 Apr 2025

Die Toyota SA Jong Afslaerskompetisie, wat vanjaar vir die 12de keer by die Bloemskou aangebied is, het jong talent weer in die kollig geplaas.
Hierdie jaar se wenner, Pietman Oosthuizen van Bloemfontein, het die louere ingepalm ná ’n uiters kompeterende dag met vyf talentvolle deelnemers.
Die kompetisie, georganiseer deur Plaas Media in vennootskap met Toyota SA, Vleis Sentraal en BKB, bied ’n unieke platform vir aspirant afslaers om hul merk te maak in ’n uitdagende bedryf.
Deidré Louw van Plaas Media sê dit is nie bloot ’n kompetisie nie, maar ’n geleentheid om raakgesien te word: “Hierdie kompetisie gee jongmense ’n voet in die deur en die kans om hulself te bewys voor gevestigde rolspelers in die veilingsbedryf.”
Die top drie deelnemers van elke streekkompetisie dring deur na die eindronde, wat vanjaar op 12 September by NAMPO Kaap in Bredasdorp plaasvind. Daar wag ’n kontantprys vir die wenner om deelname aan die internasionale Calgary Stampede-afslaerskompetisie in Kanada te help befonds.
Billy Lyons, BKB-stoetveeveilingsafslaer en beoordelaar, het die deelnemers se gehalte geloof: “Ek is opgewonde oor die toekoms van die afslaersbedryf – die talent was werklik uitstekend.”
Een van die deelnemers, Pieter Viljoen, tans by BKB werksaam, het gesê die kompetisie bied ’n waardevolle ervaring: “Ek het groot geword in dié wêreld. My oupa was ’n afslaer. Hierdie platform gee my hoop en motivering.”
Oosthuizen, die uiteindelike wenner, sê die ervaring was ’n droom wat bewaarheid is: “Dis moeilik om as jong afslaer ’n begin te maak. Hierdie kompetisie gee ons ’n geleentheid om gesien te word en ’n pad te begin stap.”
Sy boodskap aan ander jongmense met dieselfde droom? “Oefen. Oral. In die bakkie, op die trekker – oefen net aanhoudend. Dis die enigste manier om beter te word.”
Met nog een streekskompetisie wat op 1 Augustus in Thabazimbi plaasvind, sal die laaste finaliste binnekort bekend gemaak word. Die Toyota SA Jong Afslaerskompetisie bewys weereens waarom dit as 'n belangrike ontwikkelingsplatform in die landboubedryf beskou word.