Agriculture
Landbounuus-podcast: Geen nuwe uitbrekings van hemorragiese haassiekte aangemeld nie─── ELSABÉ RICHARD 16:00 Mon, 27 Mar 2023
Die Departement van Landbou sê hy het nog nie weer enige verslae ontvang oor uitbrekings van hemorragiese haassiekte nie.
Die departement se Reggie Ncgobo sê dit lei tot 'n groot aantal vrektes onder hase en konyne, en is in November in die Noord- en Wes-Kaap bevestig. Dit was die eerste gevalle in Suid-Afrika.
Die vermeende Lismore-moordenaars sal weer volgende maand in die hof verskyn nadat hulle saak verlede week wéér uitgestel is. Kamohelo Motankisi en Lerato Selepe bly in aanhouding. Hulle is in Julie verlede jaar in hegtenis geneem ná die ontdekking van die liggame van ses vroue en een jong man deur die plaaseienaar Alheit Smith, buite Kestell in die Vrystaat. Een van die slagoffers was sy vrou. Motankisi en Selepe staan tereg op 12 aanklagte, onder meer moord en roof met verswarende omstandighede.
Intussen sal ’n Noordwes-man na verwagting volgende maand in die hof verskyn nadat hy in hegtenis geneem is weens ’n elektriese lokval wat hy gestel het om rondloperbeeste weg te skrik. Polisiewoordvoerder Adéle Myburgh sê een bees is doodgeskok. Die 69-jarige man van Lehurutshe, voorheen bekend as Welbedacht, staan tereg op aanklagte van Artikel 72 van die Dierebeskermingswet.
Byna drie uit vier natuurrampe hou verband met water, en hierdie broodnodige vloeistof is die wêreld se lewensbloed. Dit is volgens die Voedsel- en Landbou-organisasie se António Guterres tydens die VN se Waterkonferensie waar kommer uitgespreek is oor die droogte-situasie regoor die wêreld.
Die Nasionale Oesskattingskomitee gaan Dinsdag die tweede produksieskatting vir somergewasse vrystel. Die eerste skattings toon dat die hersiene oppervlakteskatting vir sonneblomsaad byna 556 000 hektaar is, wat 17% minder is as die oppervlakte wat die vorige seisoen aangeplant is. Dit het ook grondbone geskat op 32 300 hektaar, wat 'n verwagte oes van meer as 51 000 ton is.
EN
Goeie mededinging het geheers tydens die 25ste wolveiling van die 2022/23-seisoen. Die mark het ook 'n herstel getoon en alle mikronkategorieë het positiewe resultate gelewer. Senior wolbemarker by OVK, Heinrich Victor, vertel wie die top presteerders in Sentraal-Suid-Afrika was.
