On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Daar’s lig aan die einde van die tonnel vir rooivleis-boere

───   ELSABÉ RICHARD 08:31 Tue, 28 Mar 2023

Daar’s lig aan die einde van die tonnel vir rooivleis-boere | News Article
FOTO: Pixabay (https://www.pexels.com/photo/nature-animal-agriculture-cow-36347/)

Die rooivleisbedryf verkeer tans onder druk wat pryse betref.

Boere het druk op hul kontantvloei ervaar terwyl verbruikers vleis vir relatief goedkoper kan koop, sê James Faber van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).

Chris Derksen, wat weekliks velingspryse vir lewendehawe verskaf, het ook gesê verbruikers verkeer steeds onder finansiële druk, wat daartoe lei dat hulle minder geld op vleisprodukte spandeer. 

Faber verseker egter dat hierdie net ‘n tydelike situasie is en dat dit weer sal verander sodra alle bek-en-klouseer positiewe diere uitgeslag is en die bedryf weer na normaal terugkeer.

Vooruitsigte

“Wat die vooruitsigte vir die volgende paar maande is, sien ek as baie positief. Ek sien ‘n vinnige verandering in die mark waar produsente meer vir hulle produk sal kry …  Ek is positief dat speenkalfpryse sal styg, maar ook dat die verbruiker se prys [steeds] bekostigbaar is.”

Bek-en-klouseer

Beeste wat positief vir bek-en-klouseer getoets het, is ingeënt en word tans in verskeie abattoirs geslag, sê Faber. Die vleis is veilig vir verbruik.

Hy sê daar is nie nuwe uitbrake waarvan die RPO bewus is in die bek-en-klouseer positiewe gebiede nie.

Faber pleit by produsente om hul kant te bring en ten alle tye biosekuriteitsmaatreëls te handhaaf om voortaan dié siekte hok te slaan. “Kry jou biosekuriteit op jou plaas in plek en wees regtig op die uitkyk vir diere wat onnodig rondskuif. Kom ons kry ons land bek-en-klouvry sodat ons ons status weer kan terugkry."

Intussen het die Vrystaatse LUR vir Finansies die provinsiale Departement van Landbou geloof vir sy pogings om bek-en-klouseer hok te slaan. 

LUR Gadija Brown het in Februarie tydens die lewering van haar begrotingsrede gesê die departement gaan steeds voort om ‘n positiewe bydrae tot die ekonomie te lewer. 

OFM-nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.