Agriculture
Landbounuus-podcast: Direkteur in hegtenis geneem vir eiendomsbedrog─── ELSABÉ RICHARD 14:58 Fri, 21 Apr 2023
Die Valke in De Aar in die Noord-Kaap het 'n 56-jarige verdagte in hegtenis geneem op aanklagte van eiendomsbedrog.
Kaptein Tebogo Thebe sê die verdagte, 'n direkteur by die Departement van Landbou, het na bewering beloof om 'n koopooreenkoms tussen 'n grondeienaar en koper te fasiliteer en het meer as R95 000 ontvang vir die transaksie. Die ondersoek na die voorval duur voort.
Die eerste ryp van die seisoen het reeds in dele van Sentraal-Suid-Afrika voorgekom. Volgens landbouweerkundige, Johan van den berg, is min skade aan gewasse aangerig. Hy sê temperature behoort weer te herstel oor die volgende weke.
Beurtkrag weeg swaar op vleisprodukte, aangesien dit bederfbaar is en altyd koud gehou moet word. Eskom wissel tans beurtkrag tussen fases 5 en 6. Dit is volgens Chris Derksen, wat weekliks velingspryse vir lewendehawe verskaf. Hy doen verslag oor onlangse veilingspryse.
Die Vrystaatse Landboudepartement het R6 miljoen geherprioritiseer om onder meer 56 boere op 27 plase in Jagersfontein te ondersteun. Dit volg nadat ’n myndamwal in September verlede jaar ineengestort het en groot skade aan die omgewing aangerig het. LUR Teboho Mokoena het dié aankondiging gedoen tydens sy begrotingsrede vir die nuwe finansiële jaar.
Intussen sê LUR Mokoena die landboudepartement is besig om 'n span daar te stel om die verbetering van verhoudings tussen - onder andere - boere, plaaswerkers en plaasbewoners te koördineer. Mokoena sê wedersydse respek en erkenning van mekaar se regte en waardigheid is belangrik.
