On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Skande, sê VF Plus oor afkeur van wet op dieretoetse

───   09:17 Wed, 07 Jun 2023

Skande, sê VF Plus oor afkeur van wet op dieretoetse | News Article
ONDERSKRIF ASB? FOTO: PPC Group

Die VF Plus sê dit is ’n skande dat ’n wysigingswetsontwerp in die parlement afgekeur is om kosmetiese toetse op diere te verbied.

“Hoewel daar sover bekend nie kosmetiese toetse op diere in Suid-Afrika gedoen word nie, sou dit ’n stap in die regte rigting gewees het,” sê die party in ’n verklaring.

“Dit sou ook Suid-Afrika op dieselfde standaard bring met dié van die Europese Unie, Brittanje, sekere Amerikaanse deelstate, Indië en Taiwan.”

Suid-Afrika is in 26ste plek op die internasionale lys vir diereregte en het ’n  E-gradering op die internasionale dierebeskermingsindeks. Dié skaal gradeer lande van A (die beste) tot G.

Die VF Plus meen Suid-Afrika moet meer doen vir dierebeskerming. FOTO: One Green Planet

“ 'n Voorkomende wet soos hierdie sou geen finansiële impak hê nie en sou slegs voordele inhou. Dit sou ook geen finansiële gevolge vir die staat inhou nie aangesien daar reeds strukture en organisasies is wat omsien na die welsyn van diere.”

Die voorgestelde wysiging van die wet is met teenstand deur die portefeuljekomitee van die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling begroet wat siekte-entstof, die uitvoer van melk en toekomstige werkgeleenthede as redes daarteen aangevoer het.

Die parlement het 2 383 voorleggings oor die wetsontwerp ontvang, insluitende van organisasies soos Beauty Without Cruelty en dierewelsynorganisasies. Hiervan was 1 311 ter ondersteuning, terwyl 1 052 selfs groter beskerming vir diere bepleit het. Sewe besware wat ontvang is, het gehandel oor tegniese aspekte oor die wetsontwerp.

“Die komitee kon met die aanvaarding van hierdie wysigingswetsontwerp ’n voorbeeld aan die parlement en die land gestel het oor ’n regering wat goeie waardes en norme hoog ag, maar het verkies om dit nie te doen nie,” sê die VF Plus.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.