On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Agriculture

Hoenderplase onder kwarantyn geplaas weens voëlgriep

───   12:35 Thu, 08 Jun 2023

Hoenderplase onder kwarantyn geplaas weens voëlgriep | News Article

Al die hoenderplase in die omgewing van die uitbreking is onder kwarantyn geplaas om die verspreiding van voëlgriep te voorkom. 120 000 hoenders is van kant gemaak.

Voëlgriep is ’n groep A virussiekte wat by veral hoenderagtige voëls voorkom. Dit is dodelik vir hoenders en kalkoene. Loopvoëls soos volstruise loop ook die gevaar om besmet te word.

Dié virale infeksie kan wel ’n bedreiging vir openbare gesondheid onder mense inhou.


Die tydskrif BOERhier berig dat uitbreking van voëlgriep by boerderye waarskynlik veroorsaak word deur die ontlasting van trekvoëls wat oor die plase vlieg. Verspreiding deur eiers is ook moontlik, maar gewoonlik slegs weens mis wat aan die eiers kleef.


Die laboratoriumgroep Lancet sê die siekte presenteer by pluimvee in ligte vorm as deurmekaar vere, verminderde eierproduksie of asemhalingsprobleme soos nies en proes.

FNB senior landbou-ekonoom Paul Makube bevestig die uitbreking van voëlgriep is tot die Wes-Kaap beperk. Indien die siekte verder versprei, sal handel ontwrig word en eierprodusente kan noemenswaardige verliese ly. ’n Moontlike prysstyging van eiers kan verwag word, omdat produksie sal afneem.

Makube sê eierprodusente sukkel ook weens wisselvallige elektrisiteit, verhoogde kragkoste en ’n vervalle padinfrastruktuur. 

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging se hoofbestuurder, dr. Abongile Balarane, is van mening dat inenting die beste manier is om voëlgriep in die eierbedryf te bekamp. Dié bedryf het reeds in beginsel besluit om inenting te ondersteun.

Die eienaar van El Azaar pluimveeplaas naby Bloemfontein, Marco Torsius, sê geen voëlgriepgevalle is tot dusver in die Vrystaat aangemeld nie. Hy vra egter dat hoendereienaars die nodige voorsorgmaatreëls moet tref om die situasie te handhaaf.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.