Agriculture
Wat is nuut in Farmer's Weekly?─── ELSABÉ RICHARD 10:27 Fri, 06 Oct 2023
Groenteprodusente se dalende winsmarges plaas voedselproduksie in gevaar.
Navorsing deur die Global Coalition of Fresh Produce toon dat 60% van wêreldwye vars produkte op vlakke verhandel wat nie winsgewend is vir produsente nie.
Farmer’s Weekly se Sindira Chetty sê dit is die gevolg van stygings in produksie- en bedryfskoste.
Suiwelprodukte
Die Melkprodusente-organisasie sê die kleinhandelverkope van suiwelprodukte in Suid-Afrika het sedert 2020 afgeneem. Dit is as gevolg van die verlies aan verbruikers se koopkrag, wat veroorsaak word deur onder meer hoë werkloosheid en swak ekonomiese groei en -dienslewering deur die openbare sektor.
Beurtkrag plaas ook ekstra druk op varsmelkverkope aangesien baie verbruikers nie die risiko wil loop om produkte te koop wat weens kragonderbrekings vinnig kan bederf nie.
Brandstofpryse
Ná 'n verhoging van R2,84 per liter in dieselpryse in September, het Oktober se brandstofvooruitsigte meer ellende vir reeds sukkelende boere in Suid-Afrika gebring.
Chetty sê hoewel die jongste ongeouditeerde inligting van die Sentrale Energiefonds toon dat die brandstofprysvooruitsigte sedert middel van die maand op die petrolfront verbeter het, is dit egter nie dieselfde vir diesel nie.
Paul Makube, 'n senior landbou-ekonoom by FNB, sê na aanleiding van tekens van vermindering in koste op plaasvlak, met kunsmispryse wat met meer as 30% gedaal het in vergelyking met verlede jaar, is die hoop op verminderde druk op winsmarges byna verlore ná die onlangse styging in brandstofpryse – veral diesel vir September.
