Agriculture
Landbounuus: Koring in besproeiingsgebiede in kritieke fase─── ELSABÉ RICHARD 14:41 Thu, 26 Oct 2023
Die laaste tyd se hoë dagtemperature het geweldige druk geplaas op besproeiingstelsels.
Dit is die laaste maand van die groeiseisoen vir koring. Die laaste tyd se hoë dagtemperature in dié gebiede het geweldige druk geplaas op besproeiingstelsels. Nicol Jansen van Agri SA sê boere in ander dele van die land is fluks besig om mielies te plant en in 'n mindere mate sojabone.
Wildreservate in KwaZulu-Natal ondervind groot probleme met Transnet se steenkool- en goederetreine wat groot skade veroorsaak. Verskeie wildspesies het al onder treinwiele beland. Pieter Moller van OFM berig bedreigde spesies soos renosters tel ook onder hierdie wild, asook kameelperde.
Een van die hoofredes vir die verspreiding van hemmoragiese haassiekte is die publiek se gebrekkige kennis daaroor. Gauteng se Konyntelersvereniging versoek mense om nie enige hase langs paaie of in die veld op te tel en huis toe te neem nie, want dis hoe die virus verder versprei. Gavin Gergurin van die vereniging sê hoewel mense en ander diere nie met hemmoragiese haassiekte besmet kan raak nie, kan hulle draers wees wat die virus versprei.
Sowat 6,2% van huishoudings in die Vrystaat is betrokke by landbou-aktiwiteite vir huishoudelike verbruik. Stygende voedselpryse is een van die hoofuitdagings wat toegang tot en beskikbaarheid van heilsame voedsel toenemend belemmer. Daarom word huishoudings dikwels aangemoedig om hul eie voedsel te kweek. Só sê die Vrystaatse landboudepartement wat Wêreldvoedseldag in QwaQwa herdenk het. Verskeie plaaslike organisasies en regerings wêreldwyd word gedurende hierdie tyd versoek om aktief deel te neem en by te dra tot die bevordering van voedselsekerheid.
EN
Navorsers toets ‘n nuwe metode waarvolgens daffodille gebruik word om die vlakke van metaan te verlaag wat deur lewendehawe geproduseer word. Metaan is die tweede grootste algemene kweekhuisgasvrystelling ná Co2, en word deur vee soos koeie en skape vrygestel. Die Rooivleisprodusenteorganisasie berig toetse toon ‘n chemikalie wat die daffodille vrystel kan metaanproduksie met ‘n derde verminder wanneer dit gevoeg word by beeste se dieet. Dit word nou getoets op ‘n aantal plase.
