Agriculture
Landbounuus: Rondloperdiere in Dihlabeng hou gevaar, gesondheidsrisiko in─── ELSABÉ RICHARD 14:02 Mon, 30 Oct 2023
Diere loop vrylik rond en kan gevaarlike siektes ongehinderd versprei.
Die DA in die Oos-Vrystaat sê hy wil nou saamwerk met die Departement van Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling in die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit en veeboere help om uitdagings die hoof te bied. Dit sluit in waterskaarsste, onvoldoende weiding en ’n tekort aan landbougrond. Die party is bekommerd oor dié munisipaliteit op Bethlehem se lakse toepassing van wetgewing oor lewendehawe. Diere loop vrylik rond en kan gevaarlike siektes ongehinderd versprei. Dihlabeng DA-raadslid Sello Mokoena sê opkomende boere moet opgelei word om hul lewendehawe te bestuur.
Karoolam uit die droë Sentraal-Karoo het die status van beskermde geografiese aanduiding ontvang. Dié vleis is bekend vir sy unieke voorkoms en aromatiese eienskappe weens sy geografiese ligging wat ryk is aan verskeie plante en kruie. Die Departement van Landbou sê die naam Karoolam is van toepassing op alle vleissnitte van lam wat onder vrylopende toestande geproduseer en in die genoemde geografiese gebied geslag word. Hy sê verskeie wetenskaplike studies het getoon dat die plante van die Karoo-streek bydra tot die unieke geur-eienskappe aan vleis van skaaprasse wat in hierdie streek wei.
Hoewel die winteroes bemoedigend lyk, blyk daar kommer te wees oor die gehalte van veral die koringoes. Die Wes-Kaap, wat vir meer as die helfte van Suid-Afrika se koringproduksie verantwoordelik is, is een van die provinsies wat kwaai skade gely het weens oorstromings. Die Landbousakekamer van Suid-Afrika noem dat as die gehalte in dié provinsie aansienlik verswak het, sal die land sy koringinvoer dalk moet hersien.
Boere, landbou-ondernemings en -organisasies was onder diegene wat 'n inligtingsessie oor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika bygewoon het. Die 20ste forum oor dié ooreenkoms, ook bekend as Agoa, word Donderdag in Johannesburg gehou. Reggie Ncgobo, woordvoerder van die Landboudepartement, sê die sessie was daarop gemik om die belangrikheid van Agoa vir die sektor te beklemtoon as 'n element vir Amerikaanse marktoegang.
EN
Vyf boere van Sentraal-Suid-Afrika is onder 2024 se deelnemers aan Boer soek ’n Vrou. Die 16de seisoen van die gewilde maatsoekreeks sluit in drie Vrystaters, 'n Noord-Kapenaar en een boer uit Noordwes. Marciel Hopkins, aanbieder, sê een van die vroue wat aan die program deelneem, is ook van die Vrystaat. Diegene wat voor 30 November aan een van die boere wil skryf moet ongetroud en ouer as 21 wees.
