On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Nog reën die naweek in Vrystaat verwag

───   09:13 Fri, 08 Dec 2023

Nog reën die naweek in Vrystaat verwag | News Article
Foto: Getty Images

Nog reën kan hierdie naweek en vroeg volgende week voorkom.

Groot dele van die noordelike tot Oos-Vrystaat, Noordwes, en Gauteng kan teen Dinsdag (12/12) meer as 50 mm reën ontvang.

Luidens Agriseker se Cummulus-verslag sal die presiese ligging van die swaarste reënval eers gedurende die naweek duidelik word.

In die mielieproduksiestreek sal dit meeste dae matig tot warm wees, met buie of donderbuie wat later die naweek tot vroeg volgende week sal voorkom. Maksimum temperature oor die westelike mielieproduksiegebiede sal tussen 20 °C en 37 °C wissel; oor die oostelike dele is dit tussen 16 °C en 31 °C.

Die warm en droë toestande van die laaste paar weke sal vervang word deur matiger weer met 'n goeie kans op reën oor veral die oostelike tot noordoostelike somerreënvalstreek.

Verwagte gemiddelde maksimum temperature 6 - 12 Desember 2023.

Twee reëndraende weerstelsels sal die volgende paar dae aktief wees en wydverspreide reën is moontlik oor groot dele van die somerreënvalstreek.

Die eerste sal 'n swak bolug-afsnylaagvlak wees wat oor die suidelike binneland beweeg en dit sal verspreide donderbuie na die suidelike tot oostelike binneland bring.

Die tweede stelsel is 'n dieper afsnylaagtepunt wat teen Sondag oor die sentrale binneland verwag word. Hierdie tweede stelsel sal na verwagting meer wydverspreide buie en donderbuie oor die binneland tot gevolg hê, volgens huidige voorspellings.

Die ligging en intensiteit van hierdie stelsel is egter nog nie seker nie en sal grootliks bepaal waar die reënval sal fokus.

Verwagte reënval 6 - 12 Desember 2023.

Verhoogde wolkbedekking en oostelike tot noordoostelike wind oor die sentrale tot oostelike binneland sal lei tot 'n daling in die maksimum temperature tot normaal of onder normaal vir hierdie tyd van die jaar in teenstelling met die hittegolftoestande vroeër.

In dié stadium is die kanse veral goed vir reën oor die Vrystaat en verder noord en oos. Afhangende van die presiese posisionering van die tweede stelsel kan reën egter beduidend wees oor die westelike graanproduksiegebiede soos die westelike tot noordwestelike Vrystaat en die sentrale dele van Noordwes, al dan nie.

OFM Agri dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.