On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Burre Burger help boere se las verlig met koshuisgeld

───   KAREN VAN DER BERG 10:04 Wed, 24 Jan 2024

Burre Burger help boere se las verlig met koshuisgeld | News Article
Burre Burger. Foto: Facebook

“Dink aan boere in die Karoo en die Noord-Kaap, wat op ver afgeleë plekke is. Hulle kinders moet skool toe gaan en ook koshuis toe.”

’n Mens kan aansoek doen om algehele of gedeeltelike kwytskelding van skoolgeld, maar nie koshuisgeld nie. Daarom help Droogtehulp, ’n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk, met die betaling van koshuisgeld van boere se kinders, veral dié wat woon in jare lange droogtegeteisterde gebiede en sukkel om kop bo water te hou.

“Boere woon soms ver van stede en goeie skole af. Dink aan boere in die Karoo en die Noord-Kaap, wat op ver afgeleë plekke is. Hulle kinders moet skool toe gaan en ook koshuis toe,” sê Burre Burger van Droogtehulp.


Koshuise lewer sekere dienste benewens akkommodasie soos etes, veiligheid en hulp met studies wat ’n groot bedrag geld beloop. Koshuisgeld per kind per kwartaal kan tot R12 000 beloop. Kinders word ook nie in koshuise toegelaat alvorens die bewys van betaling ontvang is nie.

Die skildery is een van drie wat deur Odette’s Art van Swakopmund geverf en geskenk is. Dit gaan op ’n veiling op Facebook verkoop word en die geld gaan gebruik word vir leerlinge se koshuisgeld. Foto verskaf

Burger sê in groot dele van die land, ook in Sentraal-Suid-Afrika, voel boere steeds die uitwerking van die langdurige droogtes en hulle geldsake knyp. Dit is veral dele van die Noord-Kaap, Karoo en die Oos-Kaap.


“Ons ontvang jaarliks baie aansoeke van mense wat hulp nodig het. Die meeste aansoeke was 42. Vanjaar het ons al 40 aansoeke gekry.”

Van die wonderlikste verhale van dankbaarheid kom van kinders wat gehelp word, vertel hy. “Ek kry gereeld boodskappe van kinders wat my bedank en besef hoe gelukkig hulle is om hulp te kry. So paar dae gelede het een van verlede jaar se matriekseuns my laat weet hy het ’n gemiddeld van 80% vir sy jaar gekry en daar lê nou vir hom ’n blink toekoms voor.”

Sommige van die leerlinge wat gehelp is, gaan studeer en kry ’n werk. Sodra hulle in die posisie kom om te help, dan begin hulle weer ander kinders help, vertel Burger.

Een van die boodskappe wat aan Burre Burger gestuur is. 

Droogtehulp betaal Woensdag (24/1) die skool- en koshuisgeld van ’n tienerseun wat waarskynlik nog ’n Suid-Afrikaanse sportster gaan word. “Dié soort dinge is wonderlik en ek is bly ons kan die geleentheid skep.”


• Enigiemand wat meer wil weet of dalk wil bydra, kan ’n boodskap stuur na admin@droogtehulp.co.za of die webtuiste by www.droogtehulp.co.za besoek.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.