Agriculture
Gemeenskapsgerigte oplossings nodig om misdaad te bekamp─── 05:00 Wed, 24 Jan 2024

Landelike veiligheid en die toename in misdaad is ‘n ernstige uitdaging vir boere in Noordwes.
OFM Agri se Robyn Schutte het met Sarel Pretorius van Agri Noordwes gesels oor kwessies rakende misdaad en die bestryding daarvan in die provinsie, asook hoe gemeenskappe saam kan werk om hul gebiede te beskerm.
Pretorius betreur die traagheid van die regstelsel en die herhaalde uitstel van sake oor jare. "Die klaer en getuies gaan uiteindelik verlore, want jy kan nie dae lank in 'n hof sit net om te hoor dat 'n saak weer uitgestel is nie. Dit lei tot moedeloosheid en dikwels tot die nie-rapportering van sake."
Na 'n lang hofproses is daar dikwels 'n opgeskorte vonnis, wat volgens Pretorius min betekenis het. "Dit is amper soos om vir die persoon te sê: Jammer dat hulle jou gearresteer het."
Pretorius merk op dat slagoffers dikwels wonder wanneer die skuldiges weer misdaad gaan pleeg en hoe lank dit sal duur voordat hulle weer agter tralies beland. "As jy die aanwas van die gesteelde goedere in ag neem en die totale verlies aan gesteelde vee bereken, kom jy uit op vier tot vyf keer die bedrag wat oorspronklik as skade gemeld is."
Landelike veiligheid lê tans in die hande van produsente en gemeenskappe self. Met verwysing na die Landelike Beveiligheidstrategie sê Pretorius dat behoorlike implementering vrugte kan afwerp, maar dit lyk asof sommige wetstoepassers nie bereid is om hierdie samewerkingspogings te ondersteun nie.
"Daarom is die publiek dikwels op hul eie aangewese, wat natuurlik 'n groot teiken op hul rug plaas. Die risiko is groot, maar ons het geen ander keuse as om hierdie veiligheid op ons skouers te neem nie, saam te werk en solidariteit te toon sodat ons mekaar kan ondersteun en sodoende 'n veiliger omgewing kan handhaaf."