On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

NWK sien uit na Lichtenburg Toyota nagfietswedren

───   08:19 Wed, 07 Feb 2024

Sponsored08:19 Wed, 07 Feb 2024
NWK sien uit na Lichtenburg Toyota nagfietswedren | News Article

NWK is trots om weereens een van die hoofborge van Lichtenburg Toyota se nagfietswedren (23 en 24 Februarie 2024), ten bate van Lichtenburg Dierewelsyn te wees.

OFM Agri se Robyn Schutte gesels met Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK, om meer uit te vind. Luister hier: 

Dit is die derde jaar wat Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy hom agter dié gewilde fondsinsamelingsgeleentheid skaar.

Lichtenburg Toyota het vier jaar gelede dié inisiatief van stapel gestuur en dit was dadelik 'n treffer onder sportgeesdriftiges. Fietsryers spring om 19:00 die Vrydagaand weg en laat die speke sing tot 08:00 die volgende oggend.

Die geleentheid het sedert 2020 net van krag tot krag gegaan. In 2021 is daar R40 000 en 1.5 ton kos vir die dierewelsyn ingesamel; in 2022 is R50 000 en 989 kg kos ingesamel en in 2023 was die bedrag R65 000, met 1.65 ton kos wat vir die vierpotige inwoners van die welsyn gevoer kon word.

Diere lê NWK na aan die hart

NWK is sedert 2015 betrokke met die voorsiening van kat- en hondekos asook ander benodigdhede aan Lichtenburg Dierewelsyn.

“Muriel Poole is 'n jarelange vrywilliger by die dierewelsyn en sy kommunikeer die organisasie se behoeftes met ons. Sy is werklik 'n ystervrou en steunpilaar – 'n gewone mens wat buitengewone dinge doen,” sê Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK.

Weens gebrekkige dienslewering in Lichtenburg, het ook die dierewelsyn 'n kritieke tekort aan water ervaar. Hulle gebruik tot 1 000 liter per dag vir drinkwater vir die diere en om hul hokke en komberse skoon te hou.

Ná 'n pleidooi in die plaaslike koerant, is 'n boorgat gesink en het NWK 'n 5 250 liter watertenk geskenk wat by die dierewelsyn opgerig is.

NWK belê in sy gemeenskap

NWK se grootste fondsinsamelingsprojek is sy jaarlikse Grip4Charity gholfdag. Verskaffers slaan af ten bate van voorafgeïdentifiseerde begunstigdes soos ouetehuise en kinderhuise. Dit het begin in 2006, toe 'n skamele R46 000 ingesamel is, en gegroei tot 'n gesogte gunsteling op die maatskappy se jaarlikse kalender waartydens daar in 2022, R290 000 ingesamel is.

Die maatskappy besef dat vandag se kinders môre se werknemers is en belê daarom aktief in die jeug se opvoeding. Die Skoolskoenprojek deel splinternuwe skoolskoene, skoenpolitoer, borsels, mussies en kouse aan laerskoolleerlinge uit wat soms die ysige winterkoue in gehawende skoene moet aandurf.

NWK onderneem hierdie projek al sedert 2012/2013 en het al meer as 5 000 leerders met dié noodsaaklikhede toegerus. “Dit is 'n klein verskil, maar ons moet iewers begin. Dié projek het grootliks ten doel om die kinders met waardigheid toe te rus,” het Johan verduidelik.

Die Ikateleng Projek, wat “bemagtig jouself” in Tswana beteken, is 'n opvoedingsinisiatief van die Noordwes-Universiteit wat ekstra klasse in vakke soos wiskunde, Engels, rekeningkunde en fisiese wetenskappe bied. Dit help gr. 10- tot 12-leerlinge om hul slaagsyfer te verbeter en matriek met universiteitsvrystelling te slaag. Die projek is in sy 34ste bestaansjaar en NWK borg dit al vir die afgelope 13 jaar.

NWK borg ook splinternuwe skootrekenaars wat elke jaar aan die 21 toppresterende matrikulante van die Ditsobotla subdistrik oorhandig word. Die waarde van vanjaar se skenking was sowat R327 000 en rus leerlinge toe om hul tersiêre studies aan te pak met 'n hulpmiddel wat hulle dikwels nie andersins sou kon bekostig nie.

Opheffing van die platteland

Die maatskappy het in 2022 begin om duisende kilometers se grondpaaie in sy bedieningsgebied te skraap ten einde dit meer toeganklik te maak. Hierdie paaie is in 'n haglike toestand en word nie net deur produsente gebruik om oeste na NWK se silo’s aan te ry nie, maar ook deur werkers en skoolgaande kinders.

Slaggate in Lichtenburg word op 'n gereelde basis, in samewerking met Afriforum, herstel. NWK het sy eie roller en snymasjien vir dié doeleindes aangeskaf. Foutiewe verkeersligte in Lichtenburg se sakekern word ook deur NWK se Ingenieursdienste herstel.

NWK staan Lichies Omgee, 'n plaaslike welwillendheidsinisiatief, by met koopbewyse wat aan vrywilligers uitgedeel word wat die dorp skoonmaak.

“Ons is ook betrokke by Hoërskool Lichtenburg se Hart en Hande Projek wat behoeftige leerlinge met kospakkies, toiletware en skryfbehoeftes help. Kospakkies word ook gedurende Kersfees aan die behoeftige gemeenskap van Bakerville uitgedeel. Ons besef nie hoe groot die land se nood is nie,” het Johan bygevoeg.

Die maatskappy speel voorts 'n deurslaggewende rol in die sukses van georganiseerde landbou deur kongresse te borg en by te dra tot fondse wat hul beywer vir plaasveiligheid en droogtehulp.

“Vir NWK is dit belangrik om, waar moontlik, hande te vat met instellings en projekte saam aan te pak en sodoende meer sinergie te verkry. Saam maak ons 'n verskil en leef ons een van NWK se waardes – medeverantwoordelikheid in die werkplek en gemeenskap – uit,” het Johan afgesluit.

Vir meer inligting oor NWK se projekte, besoek nwk.co.za asook nwkarena.co.za

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.