On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Graan SA se Heleen Viljoen

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Mon, 05 Aug 2024

Vroue in Landbou: Graan SA se Heleen Viljoen  | News Article
V.l.n.r. is Heleen se jonger broer, Reinhard, Heleen en haar oupa, Piet Viljoen. Foto verskaf

“Heleen Viljoen, tans ’n markekonoom by GraanSA in Pretoria, het haar reis in die landbousektor begin as ’n student aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy haar M.Sc. in landbou-ekonomie voltooi het.”

Heleen Viljoen se liefde vir landbou het op ’n jong ouderdom begin. Sy onthou met liefde die dae op die plaas waar sy perd gery het en in die dam geswem het.

“My ma was altyd vies vir my omdat ek so vuil by die huis aangekom het,” vertel sy laggend. Hierdie vroeë blootstelling aan die plaaslewe het haar passie vir die landbousektor aangewakker.

Vir Viljoen is die landbousektor baie divers en voortdurend in beweging. “Die landbousektor spreek ook vir my tot ’n groter lewensdoel.”


Sy besef die belangrike rol wat sy speel om te verseker dat daar bekostigbare kos vir Suid-Afrikaners beskikbaar is en dat produsente wat hierdie kos voorsien, goed versorg word.

Heleen se reis na haar huidige posisie was nie altyd duidelik nie. Sy wou aanvanklik ’n veearts word, maar met die wysheid van haar oupa het sy besluit om eerder landbou-ekonomie te studeer. “In my tweede jaar by die Universiteit van die Vrystaat het ek in ’n ekonomieklas ingestap en geweet dis presies waar ek moet wees.”

Met haar sterk finansiële agtergrond het Viljoen ’n passie om hierdie kennis oor te dra aan produsente. Sy fokus daarop om tegniese kennis en insig te gebruik om beter bemarkingsbesluite te bevorder, wat ’n groot verskil in die bedryf kan maak.

‘Sy hoop dat haar nalatenskap mense sal motiveer om ’n verskil te maak’

Die landbousektor het egter nie ’n tekort aan uitdagings nie. Viljoen se grootste les was om altyd te onthou waar haar krag vandaan kom. “In hierdie moeilike en uitdagende tye, moet jy altyd aanhou om die regte ding te doen.”

Sy hoop dat haar nalatenskap mense sal motiveer om ’n verskil te maak waar hulle is en om hulle lewensdoel uit te lewe.

Wat haar toekomsvisie vir die landbou in Suid-Afrika betref, besef sy dat landbou nooit sonder sy uitdagings sal wees nie. Sy hoop dat wanneer uitdagings ontstaan, almal met eerbaarheid en karakter na die tafel sal kom om werkbare oplossings te vind.

OFM Agri/Robyn Schutte mvh/cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.