On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Malu se Alwina van Zyl passievol oor varkvleis

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Tue, 27 Aug 2024

Vroue in Landbou: Malu se Alwina van Zyl passievol oor varkvleis | News Article
Alwina van Zyl van Malu Pork saam met die OFM-span by ’n vroeëre geleentheid. Foto: Facebook

“Alwina van Zyl het ’n liefde vir die kreatiewe kant van die besigheid ontwikkel.“

Alwina van Zyl, ’n direkteur by Malu Pork in Kimberley, verteenwoordig van die jonger uitblinkers in die landboubedryf wat voortdurend met nuwe idees en aanslag waarde toevoeg tot ’n gevestigde familieonderneming –  ’n bekende handelsnaam in die varkvleisbedryf.

Gebore en getoë op die familieplaas, vertel sy trots: “Die Malu-handelsnaam bestaan al sedert 1969 en ons is bekend in die varkvleisbedryf waar ons die volle waardeketting van varkproduksie lewer – ‘from farm to fork’.”

Hierdie besonderse waardeketting het sy reeds as ’n jong meisie met stroop en planttyd waargeneem. Sy het gesien hoe mielies voer vir hul varke is wat weer aan die slagpale gelewer word en hoe die siklus herhaal. “Ek het besef elke mieliepit het die potensiaal om ’n bord kos op ’n gesin se tafel te raak.”

Van Zyl het nie dadelik die landbousektor as haar beroep gekies nie. Sy het aanvanklik ’n graad in die regte aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf, maar ná haar studie besef haar ware roeping lê by die familieonderneming. 

“Ek het besef dat ek ’n groot geleentheid het om my eie stempel in die besigheid af te druk,” sê sy oor haar besluit om terug te keer na Malu Pork in 2017 toe die onderneming ook ’n ontbeningsaanleg open.

Aanvanklik het sy hand bygesit aan die debiteurekant, iets wat steeds ’n belangrike deel van haar pligte is, maar Van Zyl het ook ’n liefde vir die kreatiewe kant van die besigheid ontwikkel, spesifiek in bemarking. 

Verbruikers het nie altyd genoeg inligting

“Vandag is alle PR-werk van Malu ook in my mandjie. Enige verpakking wat jy van Malu op ’n rak sien, het ek saam met ’n span ontwerp.”

Hierdie kreatiewe uitlaatklep het haar gehelp om Malu Pork se handelsnaam nog verder te ontwikkel en te verseker dat die eindverbruiker ’n positiewe ervaring het met elke produk wat hulle aankoop. 

“Een van die groot uitdagings in ons industrie is dat eindverbruikers nie altyd genoeg inligting het oor varkvleis nie. Ek sal graag wil sien dat ons daarin slaag om hierdie wanpersepsies te verander.”

Alwina van Zyl bemark Malu Pork se produkte op verskeie maniere. Foto: Facebook/Malu Pork

Wanneer Van Zyl oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika praat, straal sy hoop en optimisme uit. “Geen land kan voortbestaan sonder ’n landbousektor nie. Dit is die landbou wat kos op elke burger se tafel sit.” 

Sy glo Suid-Afrika se kultuur van saamstaan en braai is diep verweef met die landbou, en dit bied ’n sterk basis vir die toekoms van die sektor.

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.