On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

RMIS begin fase 1 van naspeurbaarheidsplatform

───   ROBYN SCHUTTE 07:41 Mon, 04 Nov 2024

RMIS begin fase 1 van naspeurbaarheidsplatform | News Article
Foto: RMIS

Naspeurbaarheid kan die grootste impak hê sedert Suid-Afrika ’n netto uitvoerder van rooivleis geword het.

Red Meat Industry Services (RMIS) het Vrydag (1/11) die bekendstelling van fase 1 van hul baanbreker-naspeurbaarheidsplatform aangekondig, wat ontwerp is om deursigtigheid, doeltreffendheid en mededingendheid in Suid-Afrika se rooivleisbedryf te verbeter. Hierdie inisiatief is ’n belangrike stap om seker te maak dat elke skakel in die waardeketting, van plase tot kleinhandelaars, akkuraat opgespoor en bestuur word.  

Fase 1: Identifisering van sleutelplekke  

Die projek begin met die identifisering en nommering van Produksie-eenhede oor die hele waardeketting, insluitend kommunale grond, kommersiële plase, veilings, voerkrale en abattoirs. Hierdie Produksie-eenheidsnommers sal as die grondslag dien vir die RMIS naspeurbaarheidsplatform met die doel om:  

  • Siektebestuur aan te spreek en herroepings moontlik te maak  
  • Veediefstal te bekamp  
  • Handel te verbeter deur die deel van naspeur- en produksiedata  
  • Toegang tot kommersiële en uitvoermarkte te vergroot  

Hierdie nommers, bekend as Globale Liggingnommers (GLN), verseker dat die waardeketting plaaslik en internasionaal erken word. RMIS en GS1 Suid-Afrika streef daarna om ’n deursigtige internasionale standaard te handhaaf, wat die posisie van ’n verkoper aan ’n koper sal verifieer. In die toekoms sal dit ook gebruik word om gedigitaliseerde vervoerdokumente aan te vra. 

 

Gendac Software Engineering, met 26 jaar ondervinding, het saam met RMIS gewerk om ’n webtoepassing te ontwikkel wat rolspelers in staat stel om produksie-eenhede te identifiseer en GLN-nommers aan te vra. Hierdie toepassing sal ook die nasporing van vee verbeter deur elke plek op ’n nasionale kaart te omhein.  

Volgende fases: Vaslegging en deel van data  

Die daaropvolgende fases sal fokus op die vaslegging en deel van belangrike nasporingsdata, met die ondersteuning van verskeie rekordhoudingstelsels wat met die platform geïntegreer word. Hierdie benadering verseker dat data gestandaardiseer en betroubaar gedeel word.  

Volgens RMIS hoof uitvoerende bestuurder, Dewald Olivier, kan naspeurbaarheid die grootste impak hê sedert Suid-Afrika ’n netto uitvoerder van rooivleis geword het. Hierdie platform moet dan saam met ander inisiatiewe die waardeketting na die voorgestelde 2030-strategie lei. RMIS se hoof operasionele bestuurder, dr. Phillip Oosthuizen, het bygevoeg dat die sukses van die platform sal staat maak op ’n doeltreffende, deursigtige platform en samewerking vanaf elke deelnemer.

OFM Agri/Robyn Schutte cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.