On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Toyota AgriSA Jongboer 2024 wil ander motiveer

───   ELZETTE BOUCHER 13:57 Sun, 24 Nov 2024

Toyota AgriSA Jongboer 2024 wil ander motiveer | News Article
Kathy Perry en Dwayne Kaschula. Foto: OFM

Die Toyota SA AgriSA Jongboer van die Jaar vir 2024, Dwayne Kaschula, is opgewonde oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika en hoop om ’n positiewe impak in die sektor te maak.

Kaschula, wat saam met sy verloofde, Kathy Perry, in die Maclear-streek van die Oos-Kaap met mielies, aartappels, Angus- en Brangusbeeste, -skape, -bokke, wild- en laaghenne boer, is Donderdag (21/11) tydens ’n spoggeleentheid in Johannesburg met ’n eerbewys bekroon. 

Hy het die plaas in 2006 gekoop en met 120 koeie begin boer. Sy besigheidsfilosofieë is aanpasbaarheid, veerkragtigheid en voortdurende groei. “Om aan te pas en te verander om te pas by ’n voortdurend veranderende ekonomie en markomgewing is noodsaaklik vir volhoubaarheid en om relevant te bly in die landbousektor.”

@ofm.agri

Die Toyota AgriSA Jongboer van die Jaar is op ‘n glansgeleentheid in Johnnesburg aangekondig. 

? original sound - OFM Agri

Sy hoofmotivering vir deelname aan die kompetisie, wat al vir twee dekades aan die gang is, was om jong boere, wat in die bedryf begin, te probeer inspireer. “Oënskynlik onoorkombare struikelblokke kán oorkom word, ongeag jou agtergrond of formele opleiding. Harde werk en vasberadenheid is groot gelykmakers, en enige tekortkominge moet jou nie terughou om jou potensiaal en drome te verwesenlik nie.”

Volgens prof. Carlu van der Westhuizen van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat, die sameroeper van die paneel beoordelaars en tegniese adviseur van Toyota SA, is dit noodsaaklik om weerstand te bied teen uitdagings en ontberings in boerdery. “Dwayne verseker dat alle uitdagings met ’n sterk ingesteldheid in die gesig gestaar word, en laat nie toe dat swaarkry ’n terugslag is nie, maar eerder ’n geleentheid om te groei en aan te pas.”

Een van die faktore wat hom van die ander deelnemers onderskei het, was die manier waarop hy sy besigheid gediversifiseer het. “ ’n Meer gebalanseerde beleggingsportefeulje verminder die risiko’s verbonde aan boerdery, om te verseker dat daar ’n gepaste balans van inkomstegenererende afdelings is om enige markskommelings binne elke afdeling te akkommodeer,” het Van der Westhuizen verduidelik.

Hierdie diversifikasiestrategie is ook daarop gemik om uitsette in te sluit wat minder weerafhanklik is om die algehele risiko wat weerstoestande op boerdery inhou, te minimaliseer. “Hulle streef daarna om alle nie-waardetoevoegende aktiwiteite en produkte te verminder om maksimum opbrengs op belegging en optimale gebruik van hulpbronne te verseker.”

Verder word uitgebreide beplanning en navorsing gedoen voor die aanvang van enige nuwe sake-onderneming en die boerderybesigheid is so gestruktureer dat elke afdeling ander bedrywighede sover moontlik aandryf en ondersteun.

Dwayne Kaschula en prof. Carlu van der Westhuizen in Johannesburg. Foto verskaf

Die grens met die voormalige Transkei het talle uitdagings gebied wat Dwayne in geleenthede omskep het:

  • Die besigheid bemark direk na hul gekose teikenmark deur hul eie voertuie te gebruik om flink aflewering van produkte te verseker.
  • Verskaf topgehalte produkte, met persoonlike handelsmerke en verpakking.
  • Verseker pryse is mededingend en voorsien groter, meer lojale kliënte van vroeë skikkingsafslag asook kortings.
  • Bemark produkte via sosiale media en promosies met spesiale aanbiedinge in die winkel.

“Dwayne verseker die minimum impak van sy besigheid op die omgewing en volg al die nodige protokolle om ’n veilige omgewing vir personeel en besoekers te skep. Opleiding word aan personeellede verskaf wat nie net tot bevordering binne die organisasie lei nie, maar ook hul vaardighede ontwikkel,” voeg Van der Westhuizen by.

Kathy Perry en Dwayne Kaschula in Johannesburg. Foto verskaf

Kaschula het in sy aanvaardingstoespraak genoem dat die toekenning ’n erkenning was van die gedeelde verbintenis tot uitnemendheid en innovasie in die boerderybedryf. “Dit inspireer my om aan te hou om die grense te verskuif en na selfs groter prestasies te streef. Ek hoop dit inspireer ander jong boere ook.”

Hy het ook die georganiseerde landboustrukture, Agri EC en AgriSA bedank. “Dankie vir julle tyd en toewyding aan die boere van Suid-Afrika; vir die nakoming van die belofte om die ontwikkeling, winsgewendheid, stabiliteit en volhoubaarheid van landbou in ons land te bevorder.”

Kaschula het verder dank uitgespreek teenoor Van der Westhuizen en ander beoordelaars, dr. Brink van Zyl van die Universiteit Stellenbosch en prof. John Annandale van die Universiteit van Pretoria, vir die deel van hul kennis en tyd met hom en die ander finaliste. “Jul insigte en leiding was van onskatbare waarde. Julle wysheid, vrygewigheid en professionaliteit het ’n impak op my lewe gemaak.”

Die ander finaliste van Toyota Agri SA Jongboer van die Jaar. Foto verskaf

Hy het ook Toyota, die borg wat aan die wenner ’n splinternuwe Hilux-bakkie besorg, bedank vir die ondersteuning en bewusmaking van boere in Suid-Afrika.

Op sy beurt het Toyota Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Leon Theron, vanjaar se deelnemers geprys vir hul uitnemendheid. “Ek is elke jaar só beïndruk met hierdie jong boere, die diversifisering wat hulle doen. My pa was ’n boer en die boere van daai tyd het dit nooit gedoen nie. Hierdie jong boere van vandag is innoverend, vol energie en hulle kom met nuwe idees. Dis eintlik so gepas vir ons, want ons is dieselfde. Ons hou van innovasie.”

Jaco Minnaar, president van AgriSA, beaam Theron se gedagtes. “Ek dink die boere wat vanjaar ingeskryf het, is uitstekend. Ons het regtig topkwaliteit ouens wat regtig ’n verskil in hulle omgewings gemaak het. Jy kan sien met met die hulpbronne wat tot hulle beskikking was, party het met niks begin nie, maar wat hulle daarvan kon maak en hoe hulle kon uitbrei en innoveer is regtig uitstekend. Dis waarlik ’n inspirasie.”

Toyota SA hoof-uitvoerende beampte, Leon Theron. Foto verskaf

Kaschula was gou om te noem dat sy sukses ’n gedeelde poging was. “Spesiale dank aan my mentors en familie vir hul onwrikbare ondersteuning en aanmoediging. Aan my wederhelfte, Kath, dankie dat jy altyd my nommer een ondersteuner is. Ek wil ook my hartlike dank uitspreek aan my ongelooflike span wie se toewyding en harde werk instrumenteel in ons sukses is. Sonder julle sou dit nie moontlik gewees het nie.

“Die belangrikste is dat al die eer aan die Here toekom en vir die Here Jesus wat Sy hand hou oor alles wat op die plaas en met ons gebeur. Dankie vir alles.”

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.