On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Agriculture

‘Landbou se beeld in die buiteland moet versterk word’

───   05:00 Tue, 13 May 2025

‘Landbou se beeld in die buiteland moet versterk word’ | News Article
Foto: Getty Images

Dis krities om die regte beeld van Suid-Afrikaanse landbou internasionaal oor te dra, veral in ’n tyd waarin globale persepsies vinnig kan verander met verreikende gevolge.

Johann Kotzé, hoof uitvoerende beampte van AgriSA, het onlangs van ’n besoek aan die Verenigde State teruggekeer en sy insigte oor die verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika met OFM Agri gedeel.

Hy vertel die eerste dag van sy besoek was “amper oorweldigend” met die talle politieke gesprekke wat plaasgevind het. Hy het egter opgemerk, ondanks die verskille oor Suid-Afrika se geopolitieke standpunte, daar steeds ’n sterk behoefte aan ekonomiese samewerking bestaan. 

“Hulle het ’n geweldige behoefte om ’n transaksie, ’n onderhandeling met Suid-Afrika te doen om wel te kan handel dryf.”

Kotzé waarsku egter oor die gevaar van negatiewe kommunikasie oor Suid-Afrika. “Hulle het ’n siening wat baie negatief is, en hulle het eintlik ’n siening wat baie polities georiënteerd is, maar wat nie heeltemal die werklikheid is wat werklik in Suid-Afrika gebeur nie.”

Hy meen dit gebeur dikwels dat uitdagings, soos die omstrede Onteieningswet, so sterk beklemtoon word dat buitelanders verkeerdelik aanneem dit is reeds ’n gevestigde werklikheid in Suid-Afrika. “Ek het besef hoe belangrik dit is oor hoe ons oor Suid-Afrika praat, want die buiteland luister ook na ons.”

Dít terwyl Suid-Afrikaanse boere “wêreldklas produsente” is wat risiko’s beter bestuur as die meeste ander lande, aangesien hulle sonder regeringsubsidies werk. 

“Een van die grootste suksesverhale wat ons het in Suid-Afrika is dat ons vyftig persent van ons produk uitvoer en dit is sonder subsidie. Hierdie groei het ook nie plaasgevind deur buitelandse maatskappye wat hul geld kom insit het nie. Hierdie groei het plaasgevind deur boere wat sélf geïnvesteer het.”

Kotzé se raad aan die landbougemeenskap is die volgende: “My vraag is vir myself, as jy gepraat het, sien mense die berg raak, maar het mense moed gekry en het jy mense opgewonde gemaak oor die vermoë wat hulle het om wel oor die berg te kan kom. As jy met iemand gepraat het, het jy iemand vreesagtig gemaak en het jy iemand moedeloos gemaak? As jy dit gedoen het, sou dit beter wees as jy nie gepraat het nie.”

Hy doen ’n beroep op rolspelers in die bedryf asook die breë publiek om ernstig te besin en uit een mond te praat oor die stand van sake in Suid-Afrika en die internasionale beeld van die boer.

“Ek het myself voorgeneem en gesê ek mag nooit die Suid-Afrikaanse landbou of Suid-Afrikaanse boere afbreek op ’n ‘moontlike’ wat verkeerd kan gaan nie. En dit beteken nie ontkenning van die realiteite wat ons in die gesig staar nie. Ek het besef hoe belangrik dit is om wel ook oor die goeie nuus te praat.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.