Agriculture
Moderne graanproduksie véél meer as ‘druk goeters in die grond’─── 05:00 Wed, 14 May 2025

Moderne graanverbouing is deesdae baie meer as net saai, oes en verkoop.
Dr. Tobias Doyer, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, meen boerdery verg uitgebreide tegniese kennis, groot finansiële beleggings en gesofistikeerde tegnologie, en dit is ver verwyder van die romantiese beeld van ’n eenvoudige plaaslewe.
“Ek dink baie keer dink mense jy weet boerdery is maklik, jy plant goeters en dit kom op en dan oes jy dit en dan gaan verkoop jy dit. Die realiteit is, jy moet egter jou finansies en jou wiskunde ken.”
Hy het ook verwys na die uitdaging van skaal in die bedryf. “Boerdery kan nie meer klein gebeur nie. Ons het ’n lang tyd gelede besluit ons gaan nie ons landbou beskerm nie en die landbou moet meeding op die internasionale vlak. Dit beteken dat boere hul eie planne moes maak.”
Hierdie internasionale mededinging vereis boere moet die beste tegnologie moontlik gebruik, wat op sy beurt groot kapitaalbeleggings verg. “Om effektief en teen ’n mededingende kosprys, jy weet, die goeters te produseer, het jy hierdie majestueuse masjiene rondom ons (by NAMPO) nodig en dit verg ’n baie groot plaas om so ’n groot masjien te regverdig.”
Doyer het ook verwys na die debat oor geneties gemodifiseerde gewasse en die gebruik van glifosaat. “Mense is baie bang vir glifosaat maar ons gebruik glifosaat al vir baie baie jare en alhoewel daar snaakse hofsake uit Amerika uit kom … dit veroorsaak baie probleme.” Doyer het daarop gewys dat GMO’s reeds vir dekades veilig gebruik word en ’n kritiese rol speel in volhoubare landbou. “Dis objektief bewys dis veilig en dit het landbouproduksie soveel meer effektief gemaak om grond te beskerm.”
Oor die kwessie van volhoubaarheid en die beskerming van natuurlike hulpbronne het Doyer benadruk moderne boere moet deesdae baie meer bewus wees van hul impak op die omgewing as in die verlede. Hy het beklemtoon dat die oplossing nie in streng regulasies lê nie, maar in die bevordering van wetenskap en nuwe tegnologie om produksie te verbeter.
OFM Agri cg