Agriculture
Hoenderbedryf gereed vir invoerverbod op Brasiliaanse hoendervleis─── 10:06 Tue, 20 May 2025

Suid-Afrikaanse hoenderprodusente het genoeg kapasiteit om vir die verlies van hoendervleis-invoer uit Brasilië weens ’n voëlgriepuitbreking daar te vergoed.
Só sê Izaak Breitenbach, hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPA) se braaikuikenafdeling.
“Ons produseer tans sowat 21,5 miljoen hoenders per week en die bedryf kan hierdie volume met nog ’n miljoen hoenders per week verhoog. Gegewe die laer vraag gedurende die wintermaande behoort die plaaslike aanbod voldoende te wees om tekorte of prysstygings te voorkom,” sê hy.
Brasilië, wat die grootste verskaffer van ingevoerde hoendervleis na Suid-Afrika is, het die voëlgriepuitbraak aan die einde van verlede week aangekondig. Die lanboudepartement sal na verwagting ingevoerde vars en bevrore hoenderprodukte van Brasilië verbied, aangesien Brasilië geen kompartmentalisasie-ooreenkoms met Suid-Afrika het nie. Só ’n ooreenkoms sou beperkte invoer uit nie-besmette streke van Brasilië moontlik gemaak het.
Hoewel Brasilië sowat 18% van die hoendervleis wat plaaslik verbruik word, voorsien, beslaan hierdie invoer hoofsaaklik meganies ontbeende vleis (MDM) – ’n vleispasta wat gebruik word in verwerkte produkte soos polonie en wors. Suid-Afrika vervaardig nie groot hoeveelhede MDM plaaslik nie, en dit verteenwoordig sowat 60% van die land se hoenderinvoer uit Brasilië.
“Ons ondersteun die departement se besluit om nie hoenderprodukte toe te laat wat ’n risiko vir die plaaslike bedryf inhou nie,” sê Breitenbach. “MDM kan wel veilig verwerk word deur hittebehandeling, maar die invoer van potensieel besmette produkte is te riskant.”
Die departement het ook voorstelle van die hand gewys dat MDM ingevoer kan word op voorwaarde dat dit net in verhitte produkte gebruik word, omdat hierdie proses die virus kan doodmaak.
Of die voëlgriepuitbraak in Brasilië beperk kan bly tot die aanvanklike besmette fasiliteit, is nog onduidelik. Die verspreiding van die virus in Europa en die VSA toon dat die slag van besmette voëls alleen nie doeltreffend is om die virus uit te roei nie, wat die wêreldwye klem op inenting as ’n noodsaaklike voorkomende maatreël versterk.
Hoenderinvoer vanaf Brasilië neem sowat ses weke om Suid-Afrika te bereik, wat beteken dat die impak van die verbod nie onmiddellik sigbaar sal wees nie.
OFM Agri cg