Agriculture
VF Plus-leier loof landbou-uitnemendheid by NAMPO 2025─── 16:13 Fri, 16 May 2025

Die leier van die Vryheidsfront Plus het in die lig van ’n komende Suid-Afrikaanse afvaardiging se besoek aan Washington om die toekoms van die Agoa-handelsooreenkoms te bespreek, gewaarsku teen naïwiteit in gesprekke met Amerikaanse owerhede.
Hy meen die VSA is bereid om groter handelsbande met Suid-Afrika te vorm, maar sekere kwessies soos veiligheid op plase, eiendomsreg en minderheidsregte is vir hulle ononderhandelbaar.
“Agoa is in die moeilikheid, daar’s nie twyfel daaroor nie, maar ek weet Amerika is bereid en beskikbaar om ’n baie beter en groter handelsooreenkoms aan te gaan tot voordeel van ons boere en kommersiële boerderye, asook al die ander sektore wat geraak word deur Agoa,” sê dr. Corné Mulder, die VF Plus-leier.
Hy het sy stem by talle ander politici op Graan SA se NAMPO Oesdag gevoeg deur bewondering uit te spreek vir die landbousektor se uitnemendheid en die produsente wat dit dryf.
Tydens sy besoek aan OFM se Opstal op NAMPO Park, het Mulder gesê NAMPO 2025 bied ’n blik op wat hy beskryf as “’n absolute voorbeeld van totale uitnemendheid”. Hy beklemtoon dat sulke standaarde landwyd toegepas kan word as die regte geleenthede geskep word.
“Die ironie is, hierdie uitnemendheid in die landbousektor kom vanaf die produsente, van Afrikaners, van die boere. Dit is iets wat eintlik landwyd op alle terreine geakkommodeer en gedoen kan word as die geleenthede geskep word.”
Koalisieregerings op plaaslike vlak moontlik
Mulder het ook sy waardering uitgespreek vir die geesdrif en vasberadenheid onder boere, ondanks ’n moeilike seisoen. “Daar’s ’n vasberadenheid om ’n verskil te maak. Ek weet dit was ’n moeilike seisoen, maar ons is daardeur en ek dink ons gaan vorentoe. En die ervaring is baie positief. Baie, baie positief.”
Op plaaslike vlak, beklemtoon hy dat die VF Plus in gebiede soos die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes hard werk aan die verbetering van dienslewering en infrastruktuur, veral padnetwerke wat boere se toegang tot markte belemmer.
Hy voorsien koalisies as ’n moontlike uitkoms ná die volgende plaaslike verkiesing en wil hê die VF Plus moet ’n bepalende rol daarin speel.
‘Slagspreuke soos “Kill the Boer” moet as haatspraak geklassifiseer word’
“Dit gaan ook in die rigting van koalisieregerings op plaaslike vlak. Ons ons wil ’n hand uitreik. Die hele kwessie van veiligheid is 'n probleem.
“Ek het ’n verklaring vanoggend uitgereik en gesê as die president ernstig is om 'n verskil te maak, dan moet hulle die moorde op die plase verklaar as ’n prioriteitsmisdaad. Hulle moet die kommandostelsel terugbring.”
Mulder het ook gepleit dat slagspreuke soos “Kill the Boer, Kill the Farmer” as haatspraak geklassifiseer moet word. Hy sluit af deur te sê dat die VF Plus voortgaan om hul saak te beywer vir die regte en veiligheid van hulle kiesers – veral dié in landelike gebiede.
OFM Agri mvh