On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

NAMPO-Tech: Bemagtiging deur vaardigheidsontwikkeling

───   13:32 Fri, 16 May 2025

NAMPO-Tech: Bemagtiging deur vaardigheidsontwikkeling | News Article
Die skep van praktiese, werkgekoppelde opleidingspaaie kan help om volhoubare lewensbestaan te bou en jeugwerkloosheid te voorkom. Foto: Elzette Boucher-Kruger

Suid-Afrika se graanbedryf ondergaan ’n transformasie, wat nie net deur innovasie en die veranderende markte gedryf word nie, maar ook deur ’n dringende behoefte aan gekwalifiseerde professionele persone.

Namate boere toenemend afhanklik raak van presisie-landboutegnologieë om produktiwiteit te dryf en die omgewingsimpak te verminder, is die vraag na tegnies geskoolde professionele persone groter as ooit tevore.

Nasie in Gesprek is die eerste keer in 2013 by NAMPO bekendgestel. Die doel van die forum is om rolspelers in die landbousektor bymekaar te bring en oor kwessies, plaaslik en internasionaal, te besin.

In die laaste deurslaggewende gesprek op NAMPO 2025, getiteld NAMPO-Tech: Vennootskap om Suid-Afrika se landboutoekoms saam te bou, het John Steenhuisen, die landbouminister, Vrydagoggend (16/5) by Graan SA aangesluit om te beklemtoon hoe vennootskappe tussen die regering, die bedryf en opleidingsinstellings die volle potensiaal van landbouvaardigheidsontwikkeling kan ontsluit.

’n Beduidende stap in hierdie rigting is die oprigting van ’n moderne landbou-tegniese opleidingsfasiliteit op NAMPO Park by Bothaville in die Vrystaat. Die fasiliteit sal na verwagting in 2026 studente inneem en fokus op pasgemaakte opleiding in antwoord op die behoeftes van die graanproduksiesektor. 

NAMPO-Tech sal funksioneer as ’n opleidingskollege wat fundamentele kwalifikasies bied, gevolg deur praktiese, produkspesifieke opleiding deur middel van bedryfsvennootskappe. Die doel is om indiensneembare gegradueerdes op te lewer wat gereed is om aan die eise van ’n vinnig ontwikkelende, tegnologie-gedrewe landbousektor te voldoen.

Dr. Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO, sê daar is ’n kritieke behoefte aan tegnies geskoolde individue in die landbou, veral in landelike gebiede waar die behoud van talent ’n uitdaging is as gevolg van stedelike migrasie. NAMPO-Tech beoog om dit aan te spreek deur ’n volhoubare vaardigheidspyplyn te skep wat kontinuïteit verseker, selfs wanneer mense wegtrek. 

“Die inisiatief gaan nie net oor NAMPO of Graan SA nie, maar ’n gesamentlike landboupoging om landelike ekonomieë en die hele waardeketting te versterk.”

John Steenhuisen, landbouminister, erken dat hoewel daar nog baie werk gedoen moet word, daar ’n sterk bereidwilligheid is om saam te werk tussen die regering en die privaat sektor, soos gesien by NAMPO. Hy beklemtoon die belangrikheid van opleiding en die behoefte aan praktiese ervaring, wat plaasarbeiders kan help om hul kwalifikasies te verbeter en te bemagtg. 

Steenhuisen het die kritieke behoefte aan geskoolde werkers in Suid-Afrika onderstreep en het die land se gaping in ambagsvaardighede genoem, wat nywerhede dwing om werkers in te voer. Hy kom tot die gevolgtrekking dat beide die regering en die landbousektor saam moet werk om hierdie vaardigheidsgaping te vul, aangesien geskoolde werkers noodsaaklik is vir groter presisie en opbrengs in die landboubedryf.

Ontwikkelende bedryfseise

Strydom meen voorts die sleutel tot sukses in landbou, is om bestaande opleidingsinstellings en -netwerke te organiseer in ’n gefokusde, doeltreffende stelsel wat aan die werklike bedryfsbehoeftes voldoen. “Hoewel daar reeds baie maatskappye en instellings is wat opleiding aanbied, lê die uitdaging daarin om hierdie pogings behoorlik te koördineer en ’n duidelike loopbaanpad vir jongmense te bied.”

Deur die regte vennootskappe te organiseer en te vorm, is die doel om ’n gestruktureerde omgewing te skep waar studente maklik hul loopbaanrigting kan sien en die stappe kan verstaan wat geneem moet word. “Die NAMPO-Tech-inisiatief staan uit omdat dit nie net opleiding bied nie, maar ook studente verbind met bedryfsbehoeftes, wat verseker dat hulle voorbereid is vir loopbane in die landbou.”

Die fokus is op die skep van ’n bedryfswye oplossing wat nie net generiese onderwys aanbied nie, maar aanpas by vinnig ontwikkelende bedryfseise om die beste uitkomste vir beide studente en maatskappye te verseker, het hy gesê.

Stephan Nel, besturende direkteur van CASE IH, beklemtoon die kritieke tekort aan ambagsvaardighede in landbou, veral in gebiede soos dieselmeganika, trekkermeganika en meulmakers, as gevolg van die toenemende gebruik van elektronika en hidroulika. Die onderwysstelsel is verouderd en stadig om aan te pas by tegnologiese veranderinge, sê hy, daarom moet die privaat sektor ingryp om vakleerlinge op te lei en te mentor. 

“Selfs om studente in die stelsel te kry, is egter ’n uitdaging, aangesien talle vroeg uitval of die land verlaat ná opleiding as gevolg van die wêreldwye vraag.”

Nel stel voor dat studente aangemoedig moet word om basiese skoolopleiding met wiskunde en wetenskap te voltooi, en dan tegniese loopbane te volg, wat selfs meer winsgewend kan wees as tradisionele universiteitsgrade.

Max Burger, Landbou-attaché vir die Duitse ambassade in Pretoria, is ook na die gesprek genooi. Sy bydrae was van waarde aangesien Duitsland se beroepsopleidingsmodel bekend daarvoor is dat dit jongmense toerus met waardevolle praktiese vaardighede deur middel van opleiding wat teoretiese kennis én praktiese ervaring kombineer. 

“Hierdie model het ná die Tweede Wêreldoorlog ontstaan om die behoefte aan geskoolde arbeid tydens Duitsland se ekonomiese herstel aan te spreek,” sê Burger. 

“Dit beklemtoon sterk samewerking tussen die privaat sektor en amptelike instellings, met maatskappye wat vakleerlinge van dag een af ’n salaris betaal. Hierdie stelsel bevoordeel beide jongmense, wat waardevolle vaardighede opdoen sonder om onderwyskoste aan te gaan, én nywerhede, wat vakleerlinge oplei wat binne ses maande as bates beskou kan word,” sê Burger.

Herlewing van landelike gebiede

Die skep van praktiese, werkgekoppelde opleidingspaaie – soos vakleerlingskappe – kan help om volhoubare lewensbestaan te bou en jeugwerkloosheid te voorkom. Die herlewing van landelike gebiede bly die sleutel.

Ter afsluiting het Steenhuisen die belangrikheid van sektorsamewerking beklemtoon om die vaardigheidskloof te oorbrug. Hy dring aan op ondersteuning vir inisiatiewe soos NAMPO-Tech, wat befondsing, toerusting en pasgemaakte kurrikulumontwikkeling benodig. 

Hy sê die sektor, nie akademici nie, moet die kurrikulumontwerp lei om te verseker dat praktiese, indiensneembare vaardighede aangeleer word.

Die oproep tot aksie is duidelik: Bedryfsrolspelers moet bydra tot die oplossing met hul kundigheid, fondse of tegnologie, en kan betrokke raak deur NAMPO-Tech te kontak.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.