Agriculture
Mielieoes vir 2025 effens laer geskat, maar steeds 14% hoër as verlede jaar─── 15:44 Tue, 27 May 2025

Die nasionale oesskattingskomitee het die vierde produksieskatting vir 2025 se somergewasse bekend gemaak, met die verwagte kommersiële mielieoes nou op 14,644 miljoen t. gestel.
Dit is 19 850 t. of 0,14% minder as die vorige skatting, maar steeds 13,96% hoër as die 2024-oes.
Die verwagte gemiddelde opbrengs vir mielies is 5,64 t. per hektaar. Die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes sal na verwagting saam 81% van die mielieoes lewer.
Witmielies laer; geelmielies hoër
Die witmielieoes word tans op 7,648 miljoen t. beraam, 1,40% laer as die vorige skatting. Die geskatte oppervlakte vir witmielies is 1,6 miljoen ha teen ’n verwagte opbrengs van 4,78 t/ha.
In teenstelling hiermee is die skatting vir geelmielies met 1,28% verhoog tot 6,996 miljoen t. op ’n oppervlakte van 997 000 ha en ’n verwagte opbrengs van 7,02 t/ha.
Die opbrengssyfers vir die Vrystaat en Noordwes is gebaseer op wetenskaplike data deur die Landbounavorsingsraad (LNR) verskaf.
Ander gewasse
Die sonneblomsaadproduksie is met 2,02% verlaag tot 727 800 t. Die oppervlakte bly op 555 700 ha, met ’n gemiddelde opbrengs van 1,31 t/ha.
Sojabone bly onveranderd op 2,331 miljoen t. met ’n oppervlakte van 1,151 miljoen ha en opbrengs van 2,03 t/ha. Grondbone is effens afwaarts aangepas tot 63 510 t., terwyl sorghum op 137 970 ton bly.
Droëbone toon ’n effense styging van 1,24% na 71 415 t. teen ’n opbrengs van 1,57 t/ha. Die vyfde produksieskatting vir 2025 word op 27 Junie vrygestel.
OFM Agri mvh