On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

FNB: Rentekoersverlaging bied welverdiende verligting vir landbou

───   11:16 Fri, 30 May 2025

FNB: Rentekoersverlaging bied welverdiende verligting vir landbou  | News Article
Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se besluit om die repokoers met 25 basispunte te verlaag, met ingang 30 Mei 2025, bring welkome verligting vir die landbousektor wat steeds sukkel om te herstel ná droogteverwante verliese.

Volgens Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Kommersieel kom die besluit op ’n kritieke tydstip, aangesien landbou-uitsette jaar-op-jaar met 8% gedaal het, terwyl landboulaste reeds met 8% gestyg het tot R221,82 miljard. “Oor die afgelope dekade het totale landbouskuld met 67% toegeneem, wat neerkom op ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 5,8%.”

Benewens die verligting in skuldlas, kan die rentekoersverlaging belegging in die sektor aanwakker, veral noudat gunstige produksietoestande tot beter vooruitsigte lei. Die verwagte somergewasse-oes vir 2024/25 is 15,7% hoër as die vorige jaar, en die herlewing in landboutoerustingverkope is ’n sterk positiewe sein.

Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Kommersieel. Foto verskaf

Volgens die Suid-Afrikaanse Landboutoerustingvereniging het verkope in die eerste kwartaal van 2025 met 27% toegeneem tot 1 827 eenhede vergeleke met dieselfde tydperk in 2024, en is 22% hoër teen Apriljaarvlak op 2 400 eenhede.

Verder het die Landbousakevertrouensindeks in die eerste kwartaal van 2025 met 11 punte gestyg tot 70 – die hoogste vlak sedert die vierde kwartaal van 2021.

Die jongste rentekoersverlaging, en die moontlikheid van verdere verlaging later vanjaar, skep ook ruimte vir hoër verbruikersvertroue en vraag na landbouprodukte, binne ’n omgewing van gedempte inflasie en verbeterde makro-ekonomiese vooruitsigte.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.