Agriculture
Kovsies stig veeartseny-opleidingsfasiliteit, tweede in SA─── 15:09 Mon, 16 Jun 2025

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het planne aangekondig om ’n nuwe veeartsenykundeprogram te vestig – die tweede van sy soort in Suid-Afrika.
Die program sal ’n geakkrediteerde Baccalaureusgraad in Veeartsenykunde insluit, asook ’n ultramoderne akademiese veeartsenykundige hospitaal op die universiteit se Suid-kampus in Bloemfontein.
Volgens prof. Johan van Niekerk, vise-dekaan van landbou in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, word die program strategies ondersteun deur die unieke infrastruktuur van die kampus, wat naby aan die Paradys-proefplaas geleë is.
“Die plaas se gevestigde produksiedierstelsels bied ideale geleenthede vir praktiese opleiding in dieregesondheid, siektebestuur en volhoubare boerdery.”
Prof. Hester C. Klopper, rektor en visekanselier van die UV, het in haar intreerede op 9 Junie beklemtoon dat die instelling van die program die universiteit se rol in voedselveiligheid, diergesondheid en volhoubare landbou versterk. “Hierdie inisiatief plaas die UV sentraal in die opleiding van veeartsenykundiges ter ondersteuning van nasionale en kontinentale ontwikkelingsdoelwitte.”
Die projek is gemotiveer deur Suid-Afrika se ernstige tekort aan veeartse – net 60 tot 70 per miljoen mense teenoor ’n internasionale norm van 200 tot 400. Hierdie tekort bedreig voedselveiligheid, dierewelsyn en openbare gesondheid.
Dr. Nalize Scheepers van die Departement Volhoubare Voedselsisteme en Ontwikkeling meen dit is ’n dringende nasionale prioriteit: “Die program ondersteun volhoubare ontwikkeling, moderne landbou en omgewingsvolhoubaarheid.”
Die projek het reeds voorlopige goedkeuring ontvang van die Minister van Hoër Onderwys, die Departement van Landbou, die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, en die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad. ’n Volwaardige veeartsenykundige akademiese hospitaal word beplan met kliniese opleidingsfasiliteite, openbare dieregesondheidsdienste en navorsingsondersteuning.
Aanvanklik sal die graad binne die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aangebied word, met vooruitsigte om ’n volwaardige Skool vir Veeartsenykunde te stig. Die program sluit aan by die UV se breër One Health-inisiatief en sal die Vrystaatse dieregesondheid en landbougemeenskappe direk ondersteun.
OFM Agri cg