On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Biosekuriteit onontbeerlik om broodnodige uitvoermarkte te ontsluit

───   ELZETTE BOUCHER 09:00 Fri, 13 Jun 2025

Biosekuriteit onontbeerlik om broodnodige uitvoermarkte te ontsluit | News Article
Wandile Sihlobo praat by die RPO Noord-Kaap-kongres in Kimberley. Foto: OFM

Diere- en plantgesondheid bly ’n haakplek wanneer dit by die ontsluiting van kardinale afsetgebiede kom.

Hoewel die rooivleisbedryf van kernbelang is vir die stabiliteit van Suid-Afrika se landbou, met bykans die helfte van landbouproduksie wat uit lewendehawe en pluimvee bestaan, lê die ware sleutel tot volhoubaarheid in toegang tot buitelandse markte, aangesien plaaslike vraag lank reeds nie meer voldoende groei toon nie.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, het die RPO Noord-Kaap se jaarkongres in Kimberley toegespreek.

“Die sektor het sedert 1994 meer as verdubbel – in waarde én volume. Hierdie groei is te danke aan beleggings in genetika, voeding en produksiedoeltreffendheid, ten spyte van struikelblokke soos swak munisipale dienslewering, stygende misdaad, siekte-uitbrake en probleme by hawens.”

Hy vertel Suid-Afrika het in 2023 ’n rekord van $13,7 miljard se landbouprodukte uitgevoer. “Ons is die enigste Afrika-land in die wêreld se top-40 landbou-uitvoerders – in die 32ste plek. “Rooivleis dra meer as R300 miljoen tot dié syfer by, hoewel dit steeds hoofsaaklik die plaaslike mark bedien.

Maar hy waarsku: “Sonder behoorlike plant- en dieregesondheid gaan geen land bereid wees om ons produkte te koop nie.”

Siektes, persepsies en uitvoerhindernisse

Sihlobo het gewys op siekte-uitbrekings soos Afrikaanse varkpes, hoogpatogeniese voëlgriep, bek-en-klouseer en sitrussiektes soos swartvlek. Hierdie siektes, selfs al is dit lokaal en van beperkte omvang, kweek ’n internasionale persepsie dat Suid-Afrika ’n risikoland is.

Hy verwys ook na die opkoms van nie-tariefhandelshindernisse wêreldwyd: “Ná Covid-19 het lande meer inwaarts begin kyk. Die Europese Unie gaan dalk nie soos die VSA openlik tariewe hef nie, maar gebruik regulatoriese vereistes om invoer te beperk.”

Binnelandse vraag kan lank reeds nie meer daaraan voldoen vir produsente om winsgewend te wees nie. Foto: OFM


Dieregesondheid ’n openbare diens

Volgens Sihlobo is gesondheidstelsels in die landbou nie net ’n private verantwoordelikheid nie. “Plant- en dieregesondheid is ’n openbare diens – dit is waarvoor jy belasting betaal. Die staat, die minister van finansies, en relevante departemente moet hierdie dienste ondersteun.”

Groei en transformasie vereis marktoegang

Om nuwe, opkomende produsente in die rooivleismark in te bring, beteken niks as daar nie ’n mark vir hul produkte is nie. “Ons voer reeds die helfte van ons landbouprodukte uit. As ons die sektor wil transformeer, moet ons die markte vir almal uitbrei.”

Die pad vorentoe

Sihlobo pleit vir volhoubare belegging in dier- en plantgesondheid, doeltreffende nasporingstelsels, en sterk leierskap in die staatsdiens. “Dis goed om konferensies te hou, maar die ware werk is in die opvolg: befondsing, implementering en kommunikasie. Dít is wat die sektor nodig het.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.