Agriculture
Deelnemer aan Fauresmith uithourit is 80 jaar jonk!─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 16 Jul 2025

Een van die deelnemers aan hierdie jaar se strawwe Fauresmith perde-uithourit is Claire Amm, ’n gesoute 80-jarige wat reeds sedert 1974 deelneem aan hierdie bekende perderit.
Die rit word oor sowat drie dae gehou en 201 km word afgelê. Sowat 300 ruiters het deelgeneem maar net sowat die helfte het die rit voltooi. Die uithourit is vanjaar deur die Fauresmith-landbouvereniging in samewerking met die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Eras) aangebied.
Elke dag bestaan uit roetes van sowat 25 km lank en ná elke roete is daar veeartsenykundige ondersoeke waardeur elke perd moet gaan. Die welstand van die perde is hoog op die prioriteitslys en streng reëls geld.
Ruiters wat deelneem aan die Fauresmith 200 perde-uithourit. Foto: Claire Amm
Amm, wat ook ’n stigterslid van die Appaloosa-perdetelersgenootskap is, se stoetery is die Alpha Appaloosa, geleë in die Oos-Vrystaat. “Ek verkies om met die Appaloosas deel te neem want vir my gaan dit oor gemak. Die perde sit lekker gemaklik, hulle is verstandig en gee nie probleme nie”.
Amm het vanjaar deelgeneem op haar perd Alpha Wap’s Esprit maar moes ongelukkig ná 125 km onttrek weens ‘n gesondheidprobleem.
Amm het ook internasionale erkenning verkry deur aan die Tevis-beker in Kalifornië deel te neem. Hierdie word gesien as een van die strafste uithouritte ter wêreld. Sy was negende in hierdie kompetisie en het ook aan die Kansas Wêreldkampioenskap deelgeneem waarin sy 32ste was.
Claire Amm op haar perd Smoke Signals in 1977. Foto: Claire Amm
Haar raad aan jong ruiters wat aan hierdie strawwe uithouritte wil deelneem, is dat “perde stadig gewoond gemaak moet word aan hierdie uitdagende rit, jong perde moet eers aan die hele idee van ’n uithourit gewoond gemaak word. Perde se bene, hart en longe moet eers geoefen word. Dis hoekom dit uithourit genoem word, jy wil nie ’n perd uitbrand in die eerste twee jaar nie,” sê Amm.
Een van die hingste in haar stal, die Alpha Wap’s Vibrant. Foto: Claire Amm
Sy is reeds besig om te beplan vir volgende jaar se Fauresmith 200-uithourit en noem dat sy genooi is om deel te neem aan die President’s Cup wat gehou word in Dubai.