On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Sekuriteitsaanbevelings welkom, maar valse aantygings teen boere word verwerp

───   07:54 Fri, 18 Jul 2025

Sekuriteitsaanbevelings welkom, maar valse aantygings teen boere word verwerp | News Article
Foto: TLU SA

Die aanvaarding van die gesamentlike verslag van die Parlementêre Portefeuljekomitees oor plaasaanvalle is volgens TLU SA gedeeltelik positief, maar bevat ernstige tekortkominge wat nie nagelaat kan word nie.

Die organisasie steun verskeie aanbevelings, insluitend die erkenning van die unieke aard van geweld in landelike gebiede en die voorstel om gespesialiseerde eenhede vir plattelandse veiligheid te versterk.

TLU SA verwerp egter sterk die veralgemenende beskuldigings teen boere in aanbeveling 4 (12), waar daar voorgestel word dat ondersoek ingestel word na beweerde menseregteskendings soos vernedering en mishandeling deur plaas-eienaars.

‘Insinuasies is gevaarlik’

“Hierdie insinuasies is nie net onwaar nie, maar gevaarlik. Dit saai verdeeldheid en ondermyn vertroue in landelike gemeenskappe,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Daar is geen bewyse van wydverspreide mishandeling van plaaswerkers nie, en dit is onaanvaarbaar om ’n hele sektor op grond van insinuasies verdag te maak.”

Volgens Van Zyl is werksverhoudinge op plase meestal respekvol en regverdig. Arbeidswetgewing word streng gemoniteer, en plaaswerkers het toegang tot kanale om onreg aan te meld.

TLU SA verwerp verder die gevaarlike veronderstelling dat plaasaanvalle die gevolg is van boere se optrede teenoor hul werkers. “Hierdie aanvalle is vooraf beplan en uiters wreed. Om dit aan arbeidsverhoudinge toe te skryf, is misleidend en onregverdig,” sê hy.

‘Verslag faal om haatspraak aan te spreek’

Die verslag faal ook om haatspraak deur politieke leiers teen boere aan te spreek, wat volgens TLU SA bydra tot die polarisering en politieke teiken van die landbousektor.

“Ons sal saamwerk aan enige proses wat opreg mik om veiligheid in die platteland te verbeter, maar dit moet sonder politieke agendas of verdagmakery geskied,” sê Van Zyl.

TLU SA versoek dat toekomstige parlementêre verslae en aanbevelings alle rolspelers gelyk behandel, sonder diskriminerende ondertone teen boere.

OFM Agri/Verklaring cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.