Agriculture
BKS-Vrystaat: Nuutste inligting uitgereik─── 08:54 Thu, 31 Jul 2025

Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling het bevestig alle besmette en blootgestelde beeste op die plase by Kroonstad en Deneysville is teen bek-en-klouseer (BKS) ingeënt as deel van sy ingrypingsplan om die siekte te stuit.
Volgens die departement duur aktiewe monitering in albei munisipaliteite voort om die moontlike omvang van verspreiding vas te stel. Tot dusver is geen verdere kliniese gevalle van BKS deur dié monitering geïdentifiseer nie.
Die eerste rondte van ondersoeke in verband met die uitbreking by Kroonstad is reeds afgehandel, en die tweede rondte het nou begin. Dit geskied in ooreenstemming met die departement se voorsorgbenadering om die situasie onder beheer te hou.
Die departement beklemtoon sy verbintenis tot deursigtige kommunikasie en sê alle belanghebbendes sal op hoogte gehou word van enige nuwe ontwikkelings.
Ingevolge Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie 2025 en die Wet op Dieregesondheid (Wet 35 van 1984), doen die departement ’n dringende beroep op alle boere, afslaers en spekulante om die volgende voorsorgmaatreëls streng na te kom:
- Beperk die beweging van diere met gesplete hoewe.
- Pas biosekuriteitsmaatreëls toe, insluitend ontsmetting van voertuie en toerusting.
- Hou nuwe vee vir 28 dae in kwarantyn voordat dit by bestaande troppe gevoeg word.
- Hou volledige rekords van alle veeverplasings en besoekers aan plase.
- Rapporteer enige verdagte gevalle onmiddellik aan die plaaslike staatsveearts (insluitend beeste wat oormatige speeksel, mondbeserings of mankheid toon).
OFM Agri cg