Agriculture
Wat is bekend van hersiene aanbod aan VSA?─── 15:23 Tue, 12 Aug 2025

Kabinet het ’n hersiene aanbod aan die Verenigde State goedgekeur wat vandag voorgelê word. Verdere besonderhede bly vertroulik om te verhoed dat “die VSA dit eers in die media lees”.
Só verduidelik die ministers van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, en landbou, John Steenhuisen, tydens ’n gesamentlike mediasessie in Pretoria. Onlangse tariefgesprekke het volgens Steenhuisen onverwagte kwessies ontbloot wat nie formeel deur die Amerikaanse handelsverteenwoordiger of die Withuis geopper is nie.
’n Hoëvlakspan onder leiding van die direkteur-generaal hanteer nou handels- en fitosanitêre aangeleenthede direk met Amerikaanse eweknieë.
Kernaspekte van die aanbod:
Hoendervleis
- Marktoegang aan die VSA onder ’n voorwaardelike selfverbodstelsel.
- Doel: benutting van 72 000 t-uitvoerkwota (sedert 2016).
- Ingestel weens VSA-kommer oor nietariefmaatreëls en beweerde gebruik van voëlgriep as handelshindernis.
- Pluimveevereniging gekant weens biosekerheidsrisiko’s; voëlgriep reeds in alle VSA-produksiestate.
Bloubessies
- Toegang vir bloubessies uit vrugtevliegvrye state.
- Versagtende maatreëls vir state waar vrugtevlieë voorkom.
Varkvleis
- Marktoegang onderhewig aan biosekerheidsvereistes.
- PRRS-siekte endemies in VSA, nog nie in SA nie.
- Vereiste: verwydering van kliere uit sekere snitte.
- Uitbreking kan plaaslike bedryf verwoes en voedselsekerheid bedreig.
Minister Parks Tau hosted a joint media briefing with the Minister of Agriculture, @jsteenhuisen on government's response to the US reciprocal tariffs. He revealed that the Cabinet has approved that SA sends a revised trade offer to the US following negotiations. pic.twitter.com/jr06Kdf6UR
— the dtic (@the_dtic) August 12, 2025
Handel, Tariewe en Diversifikasie
Steekhuisen meen handel met die VSA is wedersyds voordelig, aangesien baie uitvoere teenoorgesteld-seisoenaal is en nie Amerikaanse produksie bedreig nie. Hy waarsku dat tariewe toenemend vir niehandelsdoeleindes gebruik word, met verwysing na Brasilië se vinnige beesvleisooreenkoms met Japan ná ’n hoë tarief.
Afrika word as ’n groot groeimark vir landbou gesien, met biobrandstofontwikkeling as nuwe geleentheid. Tau wys op druk in wêreldmarkte weens oorproduksie in sektore soos staal, glas en landbouprodukte.
SA is gereed om WGO-goedgekeurde handelsremedies te gebruik. Proudly South African sal sy veldtogte verskerp om binnelandse verbruik te bevorder. Alternatiewe markte sluit Japan, China, die EU, Saoedi-Arabië, die VAE en dele van Latyns-Amerika en Suidoos-Asië in, maar die Afrika-vryhandelsgebied bly die kernfokus.
Beleidsoewereiniteit
“Ons kan nie ons nasionale beleid by ander lande laat goedkeur nie,” beklemtoon Tau. Nietariefonderhandelinge sal fokus op marktoegang, tariefverlaging en diversifikasie, met finansiële ingryping as ’n laaste opsie.
Die beskerming van bedrywe, ontsluiting van geleenthede en versterking van SA se posisie in ’n komplekse wêreldhandelsomgewing is as doelwit uitgelig.
OFM Agri mvh