Agriculture
Nampo Kaap lok rekordgetal besoekers─── 04:00 Thu, 18 Sep 2025

Nampo Kaap 2025 het sy plek as die Wes-Kaap se toonaangewende landbou-ekspo bevestig deur van 10 tot 13 September ’n rekordgetal van 49 326 besoekers na Bredasdorppark te lok.
Sedert die eerste ekspo in 2018, toe 16 000 mense opgedaag het, het die geleentheid jaarliks gegroei. Vanjaar se bywoning het verlede jaar se 45 894 oortref, met uitstallers wat vol was vir goeie sake en die gehalte van die gesprekke wat aangebied is.
Getrou aan die tema “Slim tegnologie vir doeltreffende hulpbronbestuur” is die jongste landbou-innovasie gewys, van outonome trekkers en hommeltuie tot presisie-besproeiing en vee-sensors. Produsente het die boodskap beaam dat tegnologie noodsaaklik geword het om volhoubaar te boer.
Adj.pres. Paul Mashatile het die skou Vrydag (12/9) besoek en ’n interaktiewe sessie met rolspelers soos Graan SA, Agri SA, Absa en die Landbounavorsingsraad bygewoon. Hy het die belangrikheid van vennootskappe in die waardeketting en samewerking vir voedselsekerheid beklemtoon.
’n Hoogtepunt was ’n paneelbespreking oor die garsbedryf. Graan SA se hoof, dr. Tobias Doyer, nuwe geleenthede vir diversifikasie uitgelig. Soufflet het ’n R2 miljard-belegging in ’n nuwe moutery aangekondig, terwyl SABBI ’n nuwe hoofbestuurder, Willem Botes, aangestel het.
Volgens dr. Dirk Strydom, besturende direkteur van Nampo, het die week gewys hoe belangrik dit is dat produsente toegang tot nuwe kennis kry sonder om ver te reis. “Nampo Kaap is ’n plek waar oplossings uitgestal word wat werklik verandering op plase kan dryf,” het hy gesê.
Ekonomiese inspuiting
Die ekspo het ook ’n sterk ekonomiese inspuiting vir Bredasdorp en omliggende dorpe gebied met vol bespreekte gastehuise en besige restaurante. Sport- en kultuuritems soos die boerboel-kampioenskap en Merino Classic het die landbouprogram aangevul.
“Nampo Kaap is nie net ’n landbou-ekspo nie, maar ’n gemeenskapsfees,” het Henk Aggenbach, voorsitter van Bredasdorppark NPC, gesê.
Doyer het die week as “inspirerend” beskryf en bygevoeg dat die ekspo ’n instelling geword het, danksy sterk vennootskappe, lojale produsente en die ondersteuning van die Overberg-gemeenskap.
OFM Agri/Verskaf ebk