On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Predasiebestuur: Boere ‘boer’ ook met roofdiere, sê kenner

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 30 Sep 2025

Predasiebestuur: Boere ‘boer’ ook met roofdiere, sê kenner | News Article
Predasiebestuur, ook waar rooijakkalse te sprake is, is ’n emosionele saak, Foto: Pexels.com

Predasiebestuur en navorsing bewys die fyn balans wat heers tussen mens en dier, en om uiteindelik daardie simbiotiese verhouding van saamleef te bereik, verg dikwels ander bestuurstegnieke en maniere hoe boere moet beplan.

Predasie het ’n uiters sensitiewe en verdelende onderwerp geword. Debatte oor etiese en menslike praktyke, bestuursmetodes en die regte van eienaars is gedurig in stryd met mekaar. Die gesprek word verder bemoeilik deur verdraaide persepsies, emosies, opruiende opmerkings, stygende voedselpryse en politieke onsekerhede.

Dr. Nico Avenant, soogdierkundige van die Nasionale Museum in Bloemfontein, sê boere wat met kleinvee boer, moet besef dat hulle ook met roofdiere “boer”. Die belangrikste is boere moet besef deur hul praktyke aan te pas, kan hulle verliese beperk word tydens die lamseisoen. 

As die lamseisoen aangepas kan word en oor ’n tydperk val wat daar genoeg kos is vir jakkalse, hoofsaaklik muise, kan die probleem beperk word van jakkalse wat lammers vang vir kos. As die natuurlike prooi verminder, sal ander alternatiewe, byvoorbeeld lammers, as kos dien.

Balans in die natuur tussen die beskerming van vee en die bewaring van roofdiere word baie moeilik bereik, omdat roofdiere vreet wat beskikbaar is. ’n Holistiese benadering ten opsigte van die bestuur van diere wat skade veroorsaak, moet deur voorkomende tegnieke gevolg word. 

Dit is baie emosioneel vir ’n boer om af te kom op lammers of skape wat deur roofdiere aangeval is. Dikwels tree boere emosioneel op en plaas hulle gif uit of skiet hulle roofdiere voor die voet, wat ’n groot ekologiese probleem kan veroorsaak. 

In die wetenskaplike projek PredSA se mees onlangse studie is moontlike oplossings ondersoek en hoe boere daarby kan baatvind. Dié inligting kom egter selde by boere uit en word eintlik net deur wetenskaplikes en omgewingsbestuurders gelees. 

Dr. Nico Avenant se boek skep bewusmaking oor bewaringskwessies. Foto verskaf

Daar moet meer hulp van omgewingsake, landbou en wetenskaplikes wees. “Navorsers behoort meer saam met boere te werk, en meer kennis en raad te deel. Boere moet op hul beurt ook navorsers toelaat om op hul grond navorsing te doen ten einde almal in hierdie probleem te bevoordeel,” sê Avenant.

Selfs ná baie jare se traagheid oor hierdie probleem, het die regering, bestuur-, bewaring en navorsingsgemeenskappe nog steeds geen antwoorde oor hoe om die predasieprobleem te bekamp, of hoe om die sosio-ekonomiese krisis die hoof te bied nie. Intussen groei die kommer oor die impak wat dit op Suid Afrika se biodiversiteit en ekosisteme mag hê.

Avenant se koffietafelboek, Simbamangu: Through the Eyes of Caracal, bestaan uit “fotostories” en het ten doel om wêreldwyd bewusmaking oor bewaringskwessies te skep. Die boek is beskikbaar by die Nasionale Museum.

OFM Agri/Isabel van Tonder  cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.