Agriculture
Bek-en-klouseer versprei steeds in Vrystaat─── ISABEL VAN TONDER 11:39 Fri, 24 Oct 2025
Die getal bevestigde gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat staan op 56, sê die departement van landbou en landelike ontwikkeling.
Nege afsonderlike uitbrekingsgebiede is geïdentifiseer, wat strek oor vyf plaaslike munisipaliteite. Kroonstad het tien gevalle, Viljoenskroon 29, Deneysville een, Heilbron twee, Parys drie, Sasolburg een, Edenville twee en Odendaalsrus een.
Die departement gee voorkeur aan inenting op besmette plase en het onmiddellik begin om virale lading en verspreiding te beperk.
Bewegingsbeperkings is ingestel op alle plase binne ’n 10 km-radius en die besmette plase is onder kwarantyn geplaas.
Die departement vra boere, nywerheidsvennote en alle belanghebbendes moet saamwerk om dié siekte te bekamp. Dit sluit in die identifisering en voorkoming van enige onwettige beweging van diere en die onmiddellike aanmelding van enige verdagte gevalle.

Boere moet waaksaam wees teen bek-en-klouseer, wat in die Vrystaat versprei. Foto: Pexel.com
Die Staatskoerant, nr. 51512 van 13 Junie 2025, en die Dieresiektewet (wet 35 van 1984) bepaal boere, afslaers en spekulante moet die beweging van hoefdiere beperk, streng biosekerheidsmaatreëls nakom, nuwe vee vir 28 dae in kwarantyn hou en akkuraat rekord van alle vee hou.
Enige verdagte gevalle moet so gou moontlik by die staatsveearts aangemeld word.
Die departement benadruk die beweging van diere wat onder kwarantyn is sonder die nodige dokumentasie is ’n misdaad en dié maatreëls is lewensbelangrik om die veebedryf te beskerm.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

